Wat Herrie laat dink aan die storie van die man wat vertel hoe ‘n leeu hom geskraap het. So in die hardloop sien hy ‘n tak so 15 meter van die grond af, en hy moet spring want vuilbaard is al reg om te hap…
“Het jy toe die tak bygekom?” wil die verteller se maat weet.
“Ja, so met die afkomslag het ek toe die tak gegryp gekry.”
Ou dominee Danie Hoffman was op sy dag sendeling in Zambië. Eendag vind daar ‘n kerkraadsvergadering plaas, en die een waardige ouderling kom asvaal op sy fiets daar aan.
“Wat het gebeur?” verneem die eerwaarde voorsitter.
“Ek ry by so ‘n lang bult af, te lekker. Onder draai die pad om ‘n lappie bome, en dis toe ek so lekker op spoed om die draai gaan, toe is ek tussen ‘n trop leeus.”
“Nou wat het jy gedoen dat die leeus jou nie gevang het nie?” wil die dominee weet.
“Ek het maar die klokkie gelui?” verduidelik hy.
Herrie weet nie mooi wat hy sal maak as hy met ‘n fiets tussen ‘n trop leeus beland nie. Maar een ding weet Herrie – Herrie sal nie klokkie lui nie, want Herrie se fiets het nie ‘n klokkie nie.
Maar mense kry soms lag vir Herrie omdat hy nie sommer skrik nie.. Nee, daarvoor is Herrie te stadig. So ‘n kwartier later, as Herrie begin besef hy moes eintlik geskrik het, is dit gans te laat.
Amper soos die man van Stellenbosch wat berug was oor hy so bang was. Hy het naderhand ‘n hele kompleks oor almal hom as so bang beskou en hy die bynaam Bibberbeentjies gekry het. Toe hy en sy gesin in die wildtuin kom, ry hy na ‘n plek waar mens baie ver kan sien. Daar word stilgehou, en die wêreld goed bespied. Vroulief kry die kamera reg, en ta spring uit tot vlak langs die motor, waar vroulief hom glimlaggend verewig. Skaars het die kamera gekliek, of hy is ewe haastig terug in die motor.
Na die vakansie word sy vriende oorgenooi, en hulle wys die skyfies van die vakansie teen ‘n wit muur. Toe daai skyfie aan die beurt kom, sê die bange: “En hier staan ek in die veld in die wildtuin.” Hy skuif ook nie sommer gou aan na die volgende skyfie nie, sodat sy dapperheid goed by sy gaste insink.
Maar toe kom daar ‘n stem: “Bibberbeentjies, is dit nie ‘n leeu wat daar agter jou lê nie?”
“Waar? Waar?” vra Bibberbeentjies benoud.
En sowaar, as mens mooi kyk kan mens vuilbaard uitmaak waar hy ‘n paar treë van Bibberbeentjies in die gras lê.
Maar teen daardie tyd lê Bidderbeentjies so uit soos ‘n kers.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.