praag.co.za

Dankbaarheid teenoor die Janjaweed

Written by

in

Afrikaners behoort die Janjaweed van die Soedan vir ewig dankbaar te wees. Dit is grootliks as gevolg van hulle toedoen dat daar ‘n referendum in die Soedan gehou is, met die oog op die afskeiding van die suidelike deel van daardie land van die noorde. Dit lyk asof Afrika se grootste land binnekort nie meer een land sal wees nie, en of die suidelike, swart deel van die land sy onafhanklikheid gaan bekom, omdat die stemme ten gunste van afskeiding oorweldigend blyk te wees.

Die onafhanklikheid van Suid-Soedan, of wat ook al die nuwe land genoem gaan word, vee alle besware teen selfbeskikking vir Afrikaners van die tafel af. Suid-Soedan het byvoorbeeld nie seetoegang nie, ‘n flouerige beswaar wat dikwels teen ‘n volkstaat geopper word. Ek wonder terloops waarom kla niemand dan oor Botswana, Swaziland of Lesotho se bestaansreg op dieselfde gronde nie? Afrikaners as volk se bruto nasionale produk verdwerg die gesamentlike BNP’s van Suid-Soedan, Lesotho, Botswana, Lesotho, Zimbabwe, Mosambiek en Swaziland s’n saam.

So ook is daar ‘n hele aantal verskillende stamme en taalgroepe in Suid-Soedan, wat nog ‘n gunsteling-verskoning is van diegene wat hulself blind hou vir die onafwendbaarheid van selfbeskikking vir Afrikaners. Daar gaan beslis nog konflik wees tussen suid en noord, omdat die Janjaweed nie bloot net sal verdwyn nie. Hoe dikwels moet mens die absurde verskoning aanhoor dat ‘n Afrikaner-volkstaat kwansuis ‘n sekerheidsprobleem op sy grense sou hê? Die vernietigende reaksie daarop is natuurlik dat ek eerder ‘n sekerheidprobleem op my land se grense het as wat ek een het op my eie woonerf, soos wat ons tans in die misdaad-besmette Nuwe Suid-Afrika moet verduur.

Daar is, kortom, geen beswaar teen selfbeskikking vir Afrikaners meer moontlik nie, sonder dat die persone wat dié beswaar sou opper, hulself skuldig maak aan die grofste dubbele standaarde denkbaar nie. Waarom mag die swart Soedanese oor hulself beskik, maar Afrikaners word nie daardie voorreg gegun nie? Ons word immers, nes die swart Soedanese, uitgemoor deur die ANC se eie weergawe van die Janjaweed en onderdruk deur rassistiese praktyke soos regstellende aksie, nes die Moslems in die Soedan die animiste van die suide onderdruk het.

Die enigste vraag wat myns insiens oorbly, is watter vorm selfbeskikking vir Afrikaners moet aanneem. Dit is dus nie meer óf nie, maar hóé.

Natuurlik moet mens kennis neem van die demografiese en geografiese realiteite van Suid-Afrika, en jou oplossing binne daardie parameters bedink. Dit raak byvoorbeeld elke jaar moeiliker om ‘n groot gebied waar Afrikaners die meerderheid is, af te baken, en dit lyk onwaarskynlik dat daar ‘n grootskeepse verhuising van Afrikaners na die woestyngedeelte van die land sal wees. Juis om hierdie rede is dit belangrik dat mens die begrippe selfbeskikking en volkstaat skei, al word hulle dikwels as sinonieme gebruik. Selfbeskikking, na my mening, hoef nie onmiddelik ‘n geografiese gebied te impliseer nie, alhoewel die meeste mense seker sou saamstem dat ‘n geografiese gebied, ‘n volkstaat, eerste prys sou wees. ‘n Groot mate van selfbeskikking is tog moontlik sonder ‘n onafhanklike land. Wat verhoed Afrikaners om oor sake van eiebelang te besluit, soos veiligheid, opvoeding en gesondheidsorg? Daar is internasionale presedente vir volke sonder ‘n onafhanklike grondgebied, maar met ‘n groot mate van outonomiteit.

Nóg die Palestyne, nóg die Baske in Spanje het byvoorbeeld tans hul eie, onafhanklike lande. Die Palestyne op die Wesoewer se situasie is baie soortgelyk aan dié van Afrikaners, omdat daar Joodse nedersettings op die Wesoewer tussen die Palestyne is. Nietemin is die Palestynse Owerheid onafhanklik van Israel, word hy deur die Palestyne verkies, en vorder hy belasting in van die Palestyne. Ek kan geen rede sien waarom Afrikaners nie ook ‘n Afrikaner-owerheid kan verkies, en dat ons belasting aan so ‘n owerheid kan betaal nie, wat dit op ons belange moet spandeer.

Ek verwys doelbewus na belasting, want myns insiens is ‘n eie owerheid, wat ons belasting vorder en dit op ons belange spandeer, die belangrikste stap wat ons kan neem na selfbeskikking. Sodra ons belasting op ons eie belange spandeer word, in teenstelling daarmee om die ANC se kakistokrasie te verryk, is die res eintlik detail. Afrikaners se belasting sal byvoorbeeld onmiddelik vir ‘n professionele Afrikaner-polisiemag betaal, wat die veiligheidssituasie in ons buurte onmiddelik met 1000% sal verbeter. Met ons eie belasting wat vir ons belange gaan, is ‘n Afrikaner-universiteit en volkseie skole ‘n gegewe.

Daar is selfs met ‘n Afrikaner-owerheid uiteraard baie detail om te bedink, soos hoe om te maak met infrastruktuur wat in beide die Afrikaners en die res van die land se volke se belang is (betaal die Afrikaner-owerheid sy deel van die projekkostes, byvoorbeeld?) As gevolg van my vorige betrokkenheid by ‘n mislukte poging om ‘n Afrikanerraad te verkies, staan ek ook uiters skepties teenoor ‘n verkiesing van ‘n owerheid op hierdie voortydige stadium. ‘n Kameel is ‘n perd wat deur ‘n komitee ontwerp is, en ek glo nie dat ‘n verkose komitee tans die regte benadering is nie, siende hoe komitees dikwels verlam word deur binnegevegte en dikwels sukkel om saam ‘n werkbare visie te vorm. Dit vereis eerder visioenêre, indien nie rewolusionêre leierskap nie, met die vermoë om strategies te dink. Sulke leierskap word helaas nie sommer net verkies nie, en of ‘n komitee dit kan oplewer, is vir my geensins seker nie.

Die Nubiërs van suidelike Soedan het egter vir ons die pad gewys. Wat ‘n Nubiër kan vermag, kan ‘n Boer sekerlik ook. Waarvoor wag ons?

hair headbandsДанильченко Юрий прокурор

Comments

Leave a Reply