praag.co.za

Die Mugabe-aanslag teen die media

Written by

in

Die Belgiese politikus, Yves Leterne, het bekendheid verwerf onder meer deur sy stelling dat die vrye pers die vierde, weliswaar nie-amptelike been van demokrasie is.

Nie baie lank na sy eerste sterk standpunt-inname hieroor nie het ‘n onthulling sy eie politieke loopbaan tydelik ‘n knou gegee. In baie ander lande sou die insident nie ‘n duik op ’n persoon se politieke loopbaan maak nie.

In die aanloop tot die daarstelling van ‘n moontlike nuwe bedeling in Zimbabwe, wat ‘n nuwe grondwet en ‘n werklike vrye verkiesing behoort in te sluit, reageer Mufgabe al hoe meer soos ‘n despoot en lyk Afrika se aandrang op die opheffing van geteikende sanksies teen Mugabe en sy kornuite al hoe lawwer.

Baie van die vergrype is teen die media gemik, en die internasionale persvryheidswaghond, Verslaggewers sonder Grense, se aandag is nou vierkantig op dié land gefokus. En Mugabe gee rede vir dié spesiale fokus.

In die jongste voorval is die redakteur van die The Standard, Nevanji Madanhire gearresteer. Hy het tien dae lank weggekruip voor hy, vergesel van sy regsverteenwoordiger, homself oorgegee het. Hy is na sowat 24 uur op borgtog vrygelaat.

Dié insident volg kort op die aanhouding van ‘n ander verslaggewer, Nqobani Ndlovu, wat na nege dae vrygelaat is. Hy is aangehou selfs na ‘n magistraat sy vrylating gelas het.

Verslaggewers sonder Grense meen die aanslag teen die media is deel van Mugabe se dreigemente dat hy van plan is om na die verkiesing nie meer met ‘n koalisie te regeer nie. Die organisasie wys voorts daarop dat Mugabe se magte besig is om kortgolfradio’s te konfiskeer wat nie-regeringsinstansies onder veral die landelike bevolking versprei. Hierdie radio’s word gebruik om na alternatiewe uitsendings vir die Zimbabwiese regeringsbeheerde uitsaaiwese te luister. Hierdie uitsendings vir Zimbabwiërs word deur uitgewekenes vanuit Suid-Afrika, die VSA en Brittanje gedoen. Hiersonder het veral plattelandse Zimbabwiërs slegs toegang tot regeringspropaganda.

Indien die Suid-Afrikaanse regering vrese oor sy eie voornemens om die media te muilband wil besweer, sal verwag word dat die Suid-Afrikaanse regering Mugabe baie hard sal aanspreek. Swye daaroor laat weer bedenkinge ontwikkel oor die ANC se verbintenis tot persvryheid as hoeksteen vir demokrasie.

goldilocks and the wild bearsлобановский александр компромат

Comments

Leave a Reply