“Die Vryheidsfront Plus eis onmiddellike ingryping in Gauteng se waterkrisis,” het mnr. Jaco Mulder, VF Plus-LPW in Gauteng en die party se hoofwoordvoerder vir Water- en Omgewingsake, gesê.
Die VF Plus het op 3 Desember 2010 ‘n versoekskrif aan die Gautengse departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling oorhandig waarin die departement versoek word om ‘n koördinerende liggaam in die lewe te roep om die dreigende waterkrisis in Gauteng aan te spreek.
Mulder het in ‘n toespraak in die Gauteng Wetgewer gesê dat die provinsiale departement as voog van die geografiese gebied nou op ‘n dringende basis moet optree en sy mandaat ingevolge die Suid-Afrikaanse Grondwet uitvoer.
Die damme, spruite, vleilande en riviere in Gauteng is reeds onder druk vanweë die besoedeling wat deur munisipaliteite en industrieë veroorsaak word. “Die stygende watervlakke wat deur mynbedrywighede veroorsaak is, kan een van die grootste rampe in Suid-Afrika veroorsaak,” het Mulder gesê.
Daar bestaan tans geen gekoördineerde aksie om die potensiële natuurramp af te weer nie en die mynbedryf, staatsdepartemente en munisipaliteite tree elkeen op sy eie op.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.