praag.co.za

Realpolitik teenoor beginselpolitiek

Written by

in

Kort op die hakke van premier Ace Magashule van die Vrystaat se uitbarsting dat wit mense sake bloot kritiseer omdat dit swart is, spreek ‘n briefskrywer in Volksblad die wens uit dat Suid-Afrika soos die VSA ‘n tweepartystelsel moet kry. Na hy die sake wat haper gelys het, moedig hy egter protesoptogte aan.

In dieselfde Volksblad is ‘n berig oor navorsing aan die UWK wat meen dat belastingbetalersverenigings se protesaksie ‘n persepsie skets dat dit ‘n wit aksie teen swart belange is.

Dit verdiep ras-polarisasie, aldus die verslag.

Voor die laaste algemene verkiesing was die aanduidings dat die ANC erg sou steun verloor, dat Cope beduidend sou wees, en het die DA-leier, skynbaar op advies van Ryan Coetzee, haar gereeld skerp teenoor die persoon en karakter van Jacob Zuma uitgespreek. Die aanduidings is dat baie swart mense wat teen die ANC sou stem, hulle in reaksie weer agter die ANC geskaar het en was die verkiesing weer, soos dr. Pieter Mulder van die VF Plus gereeld sê, ‘n etniese sensus.

Die VSA se politieke model is ook al voorheen voorgehou na Zuma die kabinet verder vergroot het.

Die versugting van ‘n tweeparty-bedeling spruit uit die frustrasie met ‘n onvermoë om die ANC uit die kussings te lug, en sodoende die verval van veral dienslewering in die bek te ruk. Terwyl al hoe meer waarnemers meen korrupsie in SA het endemies geword, is daar net soveel skeptisisme dat die ANC oor die politieke wil beskik om dit werklik hok te slaan.

Die destydse leier van die NP, Marthinus van Schalkwyk, het aanvanklik, tot groot ontsteltenis van die destydse DP-leier, Tony Leon, die stelling gemaak dat kiesers nie hul stem op klein partye moes mors nie. ‘n Ruk later, met die DA as amptelike opposisie, frustreer die DA die kleiner partye met dieselfde stelling. Die DA, met sy verklaarde assimilasiebeleid van opposisiepartye, werk soos die VSA in die rigting van ‘n de facto-tweepartybedeling. Mediahuise wat ‘n liberale siening met die DA deel, speel waarskynlik onbedoeld mee om kiesers wat ander beginsels huldig, in effek te ontkieser.

Die oorhoofse gedagte is skynbaar dat beginselverskille nou eers daargelaat moet word in ‘n poging om deur realpolitiek die land sou gou as moontlik van die ANC-nagmerrie te verlos. Dan eers sal dara ruimte vir normale politiek wees. Of dit werklik die bedoeling, uitgesproke of geïmpliseer is, is die realiteit dat dit polarisasie aanhelp omdat ‘n negatiewe beskouing teenoor die ANC nog gans te veel as ‘n anti-swart aanval ervaar word. Die realiteit is dat ‘n skynbare realpolitieke benadering ‘n ander as die bedoelde realiteit oplewer.

Tweedens word die ondersteuners van beginselpolitiek, soos die groenes, die Christen-demokrate, Christen-volkseie en ander in effek ontkieser.

As na die Amerikaanse model gekyk word, moet dit ook korrek weergegee word. Die VSA is nie ‘n formele tweepartystaat nie. Daar is ontsettend baie politieke partye, maar op twee na baie klein, sodat dit ‘n de facto-tweepartystaat is. Die impak word baie versag deurdat Kongreslede nie so koukusgebonde is soos hier nie. Belangegroepe speel gevolglik ‘n baie groter rol as politieke partye, soos in die afgelope middeltermyn-verkiesings deur die impak van die konserwatiewe Tea Party geblyk het. Die behoudende Christen-lobby, die Christian Coalition of American het vier miljoen betalende lede, en ‘n uitgespelde beleid soos enige Christen-demokratiese party, maar stel self nie ‘n enkele kandidaat nie. Kandidate binne veral die Republikeinse Party, maar ook ander, word aan die hand van streng kriteria uitgesoek om gesteun te word.

Dit laat uiteraard die deur oop vir omkopery, soos ‘n onlangse luukse uitstappie van kongreslede na ’n Skotse gholflandgoed, alles op die koste van ‘n lobby. Streng etiese beperkings word deurlopend verskerp om dit teen te werk. Of Suid-Afrikaanse politici al ryp genoeg is en genoeg waghondfunksies in plek is om ‘n soortgelyke bedeling as die VSA te hê, is dus ‘n ope vraag.

Boonop word die Amerikaanse president wat aansienlike magte het regstreeks verkies. Die VSA is ook ‘n werklike federasie waar die deelstate oor die meeste owerheidsfunksies oorspronklike gesag het. Die federale owerheid se gesag is beperk tot buitelandse sake, verdediging en enkele maatskaplike aangeleenthede.

Daar is ander kwessies van realiteit. Baie saamstaanpogings in die verlede, soos Alliansie 2000 +, het gewys dat een plus een in die politiek soms nie twee is nie, maar ‘n half. Partye met ‘n eie beleid en die inspirasie om dit entoesiasties te verkondig spreek dikwels harder tot kiesers. En, soos in Europa, is dit gebruiklik dat partye na hulle hul eie steun deur ‘n verkiesing bepaal het, oor kwessies saamwerk en selfs regerende koalisies vorm.

Stemreg is nie iets goedkoops wat verkwansel kan word nie.

для дачитопкарго отзывы

Comments

Leave a Reply