“Die VF Plus-jeug moedig alle jeug aan om die Wêreldfees vir Jeug en Studente (World Festival of Youth and Students) wat deur die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) gereël word, te boikot,” het Wouter Wessels, VF Plus-jeugwoordvoerder, gesê.
Die Presidensie het R29 miljoen vir die aanbied van hierdie geleentheid wat vanaf 13 tot 21 Desember by Nasrec plaasvind, bewillig.
“Die VF Plus-jeug glo dat die NYDA ‘n belangrike rol in Suid-Afrika kan en moet speel, maar dat die organisasie tans slegs belastingbetalers se geld mors en geensins ‘n sinvolle ontwikkelingsrol speel nie. Met inagneming van die hoë vlak van armoede en werkloosheid in Suid-Afrika is dit duidelik dat die prioriteite van hierdie organisasie heeltemal verkeerd is en daarom moet ons as jeug in opstand kom teen hierdie vermorsing van geld en die onbevoegdheid van die NYDA se uitvoerende bestuur,” het Wessels gesê.
Die VF Plus-jeug eis die afdanking van die NYDA se uitvoerende bestuur (die Voorsitter, Ondervoorsitter en Hoof Uitvoerende Beampte). “Die NYDA verkry hul mandaat in gevolge Wet 54 van 2008 en is tans nie besig om aan daardie mandaat uitvoering te gee nie – die VF Plus eis daarom die Presidensie se ingryping,” het Wessels gesê.
Die VF Plus loods vandag ‘n volskaalse internet-veldtog teen hierdie Wêreldfees. “Dit is van openbare belang dat die breë gemeenskap bewus moet wees van die werklike behoeftes van die Suid-Afrikaanse jeug teenoor die vermorsing van miljarde rande deur die regering en spesifiek die NYDA,” het Wessels gesê.
Die VF Plus sal ‘n dringende skrywe aan minister Colin Chabane, die minister in die Presidensie wat met die NYDA belas is, rig om ‘n vergadering in verband met die wanfunksionele NYDA te eis.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.