praag.co.za

Belewenisse in Brugge rondom Afrikaans

Brugge

Written by

in

BruggeOp uitnodiging na die Nederlandse Taalunie-byeenkoms wat via Praag geskied het, het ek besluit om die pragtige Brugge in Wes-Vlaandere te gaan besoek. My laaste besoek aan hierdie stad was in 2002 toe Brugge as Europese Kultuurstad van daardie jaar verkies is. Die uniekheid van hierdie stad is die ou, Middeleeuse argitektuur en moderne winkels wat op ‘n snaakse manier perfek saamsmelt.

Vanweë die tydsberekening was ‘n tydsame rondrit nie moontlik nie. Ek moes nogal lang wag op Antwerpen vir ‘n treinverbinding, en elke minuut het getel. Ek het uiteindelik ‘n paar minute ná die aanvang van die byeenkoms binnegeloop. Die geleentheid is helaas nie in die mooi binnestad gehou nie, maar aan die rand van die stad in een of ander hawegebied.

My gedagte was dat hierdie geleentheid een sou wees met indringende gesprekke rondom die voortbestaan van die Nederlandse taal in ander lande, tesame met ‘n toenadering tot Afrikaans in hierdie groter taalblok.

Gelukkig is daar toenadering te bespeur soos wat die huidige tydsgees dikteer, moontlik vanweë die verregsing van Nederland en Vlaandere, wat sy ontstaan het in die kranksinnige drif om volkere in die EU te integreer. Die universiteite word steeds Engelser en daar is ‘n behoefte om terug te keer na ‘n suiwerder Nederlands.

My verwagting vir die geleentheid was effens anders. Dit lyk asof al die besprekings al gedoen plaasgevind het, en dat hierdie fees slegs gehou is omdat die Nederlandse Taalunie nou 30 jaar bestaan. Daar is hoofsaaklik gefokus op jongmense van studentikose leeftyd vir wie optredes, kabarette en kompetisieuitslae gehou is, alles in die teken van die elegansie van Nederlands. Klein, humoristiese verskille tussen Nederlands en Vlaams is op lugtige manier bespreek en die romanskrywer Ronald Giphart het sy nuutste ondertekende roman aan enkeles uitgedeel wat een of ander kompetisie gewen het. ‘n Surinaamse vrou het gesing in sowel Surinaams as Nederlands oor die lot van ‘n bekende verstote Surinaamse vrou.

Een van die aanwesiges wat enkele meter van my af gesit het, was niemand minder nie as prinses Mathilde, vrou van die Belgiese kroonprins Phillppe. Die ironie het my nogal laat sidder dat ‘n koningshuis wat nie baie positief gesind is teenoor Nederlands nie sowaar hul toekomstige staatshoof se vrou na ‘n dergelike geleentheid stuur. Sy het wel ‘n paar woorde Nederlands gepraat, waarskynlik die enigstes wat sy ken. Aan die hof is die voertaal oor die algemeen Frans en prins Philippe is al gekritiseer oor sy slegte Nederlandse taalbeheersing. Blykbaar laat sy intelligensie ook veel te wense oor, maar dis ‘n ander verhaal.

Soos dit ‘n Nederlandse kabarettentoonstelling betaam, moes daar weer ‘n element van boersheid en vulgariteit ook aanwesig wees. Hierdie keer in die vorm van so ‘n selfingenome snotneus, hooguit 17 jaar oud, wat begin het met sy bespotting van ou sprokies met verwysing na een of ander heks as “ouwe kut” (ou doos) en die diverse toepassings van hierdie k-woord, gevolg deur liedjies oor gekotsery en sulke twak, en daarna is die geleentheid afgesluit en kon almal hulself aan ‘n stuk sjokoladekoek help. Uiteraard was my eetlus so effens weg. Die genooides het stilletjies verdwyn, en toe die gebeure klaar was, was daar miskien minder as die helfte soveel mense oor as in die begin. Aangesien die oorblywendes so met mekaar opgetrek het, het hierdie nie werlik gelyk soos ‘n netwerkgeleentheid nie en het ek ook geen bande kon smee met taalaktiviste nie.

Ek het die koerantjie “Taalpeil” saamgevat as leesstof vir op die trein, en by die eerste aanblik was daar geen berig oor Afrikaans nie. Die blad was deurspek van allerlei verhale oor hoe wêreldwyd Nederlands verstaan word en wat Nederlanders en Vlaminge dink van hul taal. Om die waarheid te sê, was Afrikaans hoegenaamd nie aan die orde tydens die hele geleentheid nie. Ek het gedink iets soos Koos Doep se Kinders van die Wind sou wondere gedoen het om respek en bewondering vir Afrikaans in te boesem, maar helaas…

Hoewel, toe ek die tweede keer die koerant deurlees, sien ek onder op bladsy 2 in so ‘n klein rubriek van 3 paragrawe tog iets oor Afrikaans en die “oulikheid” van Afrikaanse woorde. Die voorbeeld wat hulle genoem het, is “worshondjie” wat in Nederlands ‘n “teckel” heet.

Die artikel sluit af met ‘n aanhaling van C. Bittremieux: “Afrikaans is een taal die als een rib uit Adam, in een onbewaakt ogenblik uit het lichaam van het Nederlands is weggenomen en als door een speelzieke of verstrooide engel in het zuiden van het Afrikaanse continent verloren is gelegd.”

Kom ons hoop dat die volgende geleentheid meer vir Afrikaans kan bied as hierdie keer.

free casinoалександр лобановский класс

Comments

Leave a Reply