Vroeër vandeesmaand is die skrywer Michel Houellebecq met die grootste Franse literêre prys, die Prix Goncourt, bekroon vir sy jongste roman La carte et le territoire (Die kaart en die grondgebied). Hoewel die Goncourt slegs omtrent twee rand aan prysgeld bedra, word die ontvanger oornag beroemd en kan ook op boekverkope van etlike honderde duisende reken.
Nie dat Houellebecq tekort skiet aan roem nie, want sedert die publikasie van Les particules élémentaires (in Nederlands vertaal as “Elementaire deeltjes”) in 1998 is hy reeds die mees vertaalde Franse skrywer van sy geslag.
Die boek, ‘n studie in vervreemding en seksualiteit wat die mens óf as las óf as obsessie ervaar, bevat ook ‘n uiters polities inkorrekte gedeelte waar die held neerhalend oor swartes skryf.. Ook in die daaropvolgende roman, Plateforme, word ‘n bejaarde karakter deur die broer van sy Arabiese bediende Aïcha vermoor, waarna die verteller, wat self “Michel” heet, sê: “Om hierdie klein gemors dood te maak, het vir my nie net na ‘n onverskillige daad gelyk nie, maar as ‘n positiewe weldaad.” Elders in die teks verwys die verteller na die moordenaar in die verband van skape: “Dit word aand: ‘n paar skape voltooi hul dag. Hulle is ook dom, miskien dommer as Aïcha se broer, maar geen gewelddadige reaksie is in hul gene geprogrammeer nie.”
Houellebecq het insgelyks tydens ‘n onderhoud gesê dat “Islam die onnoselste godsdiens op aarde is”, waarvoor hy agterna deur Moslem-verenigings in Frankryk aangekla is. Hy is egter onskuldig aan haatspraak bevind, waarna hy gedreig het om sy oorwinning saam met vriende in die restaurant van die groot moskee in Parys te gaan vier.
Teenoor die Christendom ervaar Houellebecq ambivalente gevoelens. Hy is ‘n uitgesproke ateïs wat glo dat God onmoontlik kan bestaan. Nietemin meen hy dat die Bybel, anders as die Koran, “baie mooi is, want die Jode beskik oor ‘n formidabele skryftalent”. In sy jongste onderhoud ná die toekenning van die prys, vertel hy: “’Ek het n Katolieke mis bygewoon in ‘n poging om te glo, maar ek kon nie. Ek wil graag glo, maar dit lyk vir my onmoontlik.”
Hy beskou die toekenning van die prys as ‘n groot eer en dat hy ook ‘n verantwoordelikheid het, aangesien hy die Franse skrywer is wat die meeste in die buiteland gelees word.
Volgens hom egter, “is daar in die twintigste eeu niks van waarde gepubliseer nie”. Daarteenoor is hy vol bewondering vir die Franse skrywers van die negentiende eeu soos Balzac, Victor Hugo, Flaubert en Stendhal. Nietemin meen hy dat dit “tans goed gaan met die Franse letterkunde” en dat daar ‘n hele aantal skrywers is wat net goeie boeke uitgee.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.