Pas het nog ‘n invloedryke internasionale persvryheidsorganisasie, die Parys-gevestigde Verslaggewers sonder Grense, sy stem dik gemaak oor die ANC se mediaplanne.
Verslaggewers sonder Grense is veral bekend vir die internasionale persvryheidsindeks wat dit jaarliks opstel, maar dit monitor allerlei aksies teen die media, wat die lugweë en internet insluit. Dit hou ook data by oor hoeveel joernaliste jaarliks in die uitvoering van hul pligte sterf, of aangehou word.
Op die persvryheidsindeks het SA in 2003 die 22ste posisie as persvrye land beklee, en het die hoogste posisie op die Afrika-kontinent beklee.
Met voorgestelde mediawetgewing wat in 2006 ter sprake gekom het, het Suid-Afrika na die 44ste posisie teruggesak, en was by verre nie die mees persvrye land in Afrika nie.
Sedertdien het SA sy posisie tot die 33ste tans verbeter. Verskeie Afrikalande, soos Ghana en Mali, vaar egter steeds beter as SA op die lys.
Nou het Verslaggewers Sonder Grense in sy waarskuwing aan Suid-Afrika geen doekies omgedraai nie dat die huidige mediaplanne ernstige gevolge kan inhou. Die implikasie is dat Suid-Afrika weer op die indeks kan terugsak.
Die gevolge bly nie net daar nie. Omdat ‘n vrye media as ‘n belangrike instrument teen korrupsie beskou word, neig lande se posisies op die persvryheidsindeks en op die korrupsiepersepsieindeks, om ook ooreenkomste te toon. Dit het weer ‘n impak op die beleggersvertroue-indekse.
Pas het pres. Barak Obama aangekondig dat hy meen hulp aan armer lande moet gekoppel wees aan die opbou van ekonomieë en die uitroei van korrupsie. Blote voedsel- en medisynehulp aan bakhand-lande gaan afgeskaal word. Ander lande en instansies wat ontwikkelingshulp bied, plaas soortgelyke voorwaardes, bv die Europese Unie. Suid-Afrika het reeds ‘n rondte met DanChurch Aid geloop, en ‘n toesmeerdery is gewoon nie geduld nie.
Die streep is nou in die grond getrek, en die ANC kan besluit om nou sy mediabeperkingsplanne te laat vaar, of ‘n magdom gevolge te dra.
Destyds, toe Suid-Afrika die 22ste posisie op die persvryheidsindeks behaal het, het die regering se kommunikasiediens groot gewag daarvan gemaak, en ook gespog dat die land toe as die mees persvrye land op die kontinent beskou is.
Wat het verander dat die regering dit nie meer as bate beskou nie?
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.