praag.co.za

Prinsevlag is ‘n wapen

Written by

in

Strategies is die Prinsevlag vir die Afrikaner die heel beste vlag. Tewens, dit is meer as ’n vlag: dit is ’n wapen.

Tydens die onlangse optog teen die SABC (die ANC se uitsaaier) se gebruik van die woord „Tshwane“ was die verskeidenheid van „Afrikaner/Boere“-vlae opmerklik. Hierdie verskeidenheid en die noodsaaklikheid vir ’n gemeenskaplike vlag het my laat nadink.

Die pragtige Vierkleur,  met sy ryke geskiedenis, was soos gewoonlik sterk teenwoordig. Dan was daar aanpassings op die Vierkleur, waarvan een met ’n oranje baan bo in pleks van die gebruiklike rooi baan. Daar was ook ’n „Vierkleur“ (Vyfkleur?) met ’n vierde baan onder die blou baan en groen kolom. ’n Interessante verskynsel was die Skandinawiese-tipe Brawolandvlag met ’n oranje kruis. Ook was daar ’n enkele Kanadese-tipe vlag, maar in plaas van die Kanadese rooi kolomme het dit oranje kolomme bevat en in stede van ’n rooi esdoringblaar in die middel, het dit die Voortrekkermonument vertoon. Verder was daar natuurlik ook die Prinsevlag (oranje, blanje, blou, sonder die drie klein vlaggies op die wit baan).

Ek verneem ook dat ’n groepie Afrikaners selfs besig is om ’n geheel nuwe vlag vir die Afrikaner te ontwerp. Die vraag is natuurlik: waar gaan al hierdie ontwerpe en pogings eindig en met hoeveel vlae gaan ons op die einde sit? Selfs al doen ons op hierdie stadium ’n „inklusiewe“ ontwerp, moet Afrikanerpolitieke bevryding weereens problematies wees. Afrikaners wat tans nie deel van die stryd is nie gaan dan daarop aanspraak maak om ook ’n inset mbt vlagontwerp te lewer. Dan begin die hele oefening weer van voor af.

Elkeen van hierdie vlae se ondersteuners het vir seker goeie heraldiese, filosofiese, poltieke en selfs godsdienstige motiverings wat hulle ter ondersteuning van hul onderskeie vlae aanvoer. Self ondersteun ek die Prinsevlag. Ek kan aan sommer ’n hele rits geldige kulturele redes dink waarom die Prinsevlag juis die Afrikanervlag moet wees. Ek wil u egter nie daarmee verveel nie want ek kan u amper verseker dat op emosionele vlak my argumente net so goed soos al die ander se argumente gaan voorkom.

En dit is presies waar ons probleem lê. Ons redeneer emosioneel oor die vlagkwessie. U voel dalk, maar hoe dan anders: ’n vlag is ’n baie emosionele saak, en u is reg. ’n Vlag ís ’n baie emosionele saak, maar ons moet mooi gaan besin, wil ons die stryd teen die ANC met ons emosies of met rasionele strategieë aanpak?  In die geval van ’n bevrydingstryd is dit belangrik dat simbole nie net tot jou eie emosies spreek nie, maar ook tot dié van jou vyand.

Die Vierkleur is vir seker die mees populêre vlag, sou mens bloot gaan op die vertoning daarvan. Dit is myns insiens ook die enigste ernstige mededinger vir die Prinsevlag. Bo en behalwe die feit dat die Vierkleur ’n baie ekslusiewe vlag is (wat nooit breë Afrikaner-geografiese aanhang sal geniet nie) het dit ’n ander enorme tekortkoming. Strategies het die vlag geen waarde meer nie. Wat bedoel ek met strategies? Hiermee verwys ek daarna dat ons nie die ANC gaan oorwin deur ons eie „sagte gevoelens“ oor vlae te streel nie. Ons gaan die simboliese aanslag alleen wen deur simbole te kies wat impak op die onderdrukker maak.

Met die beeldsending van die onwettige teregstelling van drie AWB-lede, langs ’n ou Mercedes-Benz het die ANC die Afrikaner sielkundig verslaan. Met die gefaalde en beskaamde Bophuthatswana-inval deur die AWB, het alle skynbare mag van die regse dampkring summier tot ’n einde gekom. Die Vierkleur is van die begin deur die AWB gekaap en vinnig het die stank van die AWB-driebeenswastika daaraan gekleef. Van toe af is die Vierkleur geheel en al gemarginaliseer tot die simbool van ’n groepie neo-Nazi’s wat vir ewig die vlag bevlek het.

Met die AWB-kapitulasie tydens hul misleide en patetiese Bophuthatswana-ekskursie het die Vierkleur ook gekapituleer. Net soos die ANC na die beeldsending van die Mercedes-Benz-teregstelling nie meer die Afrikaner as ’n bedreiging sou sien nie (met die komplimente van Eugene Terrre’Blanche en sy „generaals“), net so het alle simbole wat saam met daardie groepie gehang het, van daardie oomblik af, in die swart bewussyn, totaal en finaal trefkrag verloor. Dit is baie problematies vir die aanhangers van die Vierkleur want die simbool is, buiten vir eie emosionele bevrediging, van alle mag gestroop. Eintlik lag ANC-ondersteuners daarvoor.

Vir die res van die „interessante“ vlae is die saak selfs slegter. Hul obskuurheid maak dat dit selfs minder mag as die Vierkleur projekteer. Wat tot en met hierdie skrywe nie openbare kennis was nie, is dat ten tye van die SABC-optog die polisie Dan Roodt beveel het dat „die ‚ou landsvlae’ verwyder moet word“. „Waarvan praat julle?“ het hy gevra. Onmiddellik is die vinger na die Prinsevlag gewys. Nou begin ons van simboliese mag praat! Nadat dr. Roodt hulle daarop gewys het dat dit nie die „ou vlag“ is nie het hulle onmiddelik ’n polisieregsadviseur (nogal ’n blanke) geskakel wat vir hul daarop gewys het dat dit nie die „ou vlag“ is nie en dat die „ou vlag“ boonop slegs by rugby- en sokkerbyeenkomste onwettig is. Begin u sien dat ons hier iets beet het?

Myns insiens het hulle (die swart polisie) goed geweet die ou vlag nie oral verbode is nie. Wat hulle wel gehoop het, was om vir Dan Roodt te intimideer om die vlag te verwyder. Hul emosionele wrewel jeens die „ou vlag“ het die oorhand gekry en toe het hulle ’n fout begaan. Hulle het die Prinsevlag verwar met die „ou vlag“ en buite die reëls begin optree.

Die Prinsevlag vorm die basis vir die „ou vlag“; die enigste vlag waaronder alle Afrikaners ooit grootliks verenig was. Dit is heraldies sterk omdat dit die simbool is wat Van Riebeeck met sy aankoms op Afrikabodem geplant het. Maar ek wil u nie met hierdie emosionele redes oorreed ten gunste van hierdie vlag nie. Ek wil my rig tot u sin vir objektiewe logika. Want dit is ons rasionele en strategiese vermoëns wat ons die oorhand oor die Bantoe se ooraktiewe emosionele denkwyse gaan gee.

Indien die ooreenkoms van die Prinsevlag met die „ou vlag“ hul so ontstel, beteken dit dat hierdie simbool mag in ons hande plaas. Vir die indiwiduele ANC-polisie wat op 24 September 2007 vir dr. Roodt lastig geval het moes dit ’n sielkundige vernedering en ’n bron van wrewel wees dat hulle magteloos teenoor die Prinsevlag staan. Indien die ANC die „ou vlag“ oral onwettig verklaar (soos by krieketwedstryde), kan hulle steeds niks aan die Prinsevlag doen nie. Terwyl die „ou vlag“ die gewig van daardie „misdaad teen die mensdom“, nl. apartheid, dra is die Prinsevlag op die morele hoëgrond geplant. Vir die Bantoe is die ooreenkoms egter net te erg om te verduur. Vir hulle is die Prinsevlag en die „ou vlag“ een en dieselfde of ten minste heeltemaal te na aan mekaar. Dit ontstel hulle genoeg om doodgewoon onnosel op te tree.

Onthou wat Pallo Jordan gesê het toe ANC-lede by hom oor die sog. „versoeningsbeleid“ gekla het: „Versoening is bloot ons strategie om die vyand se beweegruimte te beperk.“ Wat ons moet besef, is dat polarisering ons beweegruimte verbreed; dit verswak die regime se beheer oor ons mense en hul denke. Die Prinsevlag is by uitstek die polariserende vlag, veel meer as die Vierkleur wat allerweë as ’n „kultuurvlag“ beskou word.

сухая смесь для кладки кирпичаАлександр Фильчаков Васильевич

Comments

Leave a Reply