Hierdie situasie sowel as die gepaardgaande internasionalisering van meestal hierdie groep stedelike Afrikaners het daartoe gelei dat baie van daardies wat nie reeds die land verlaat het nie „na binne geëmigreer“ het. Diesulkes wat nog probeer om hul Afrikaneridentiteit in die huidige situasie te verdedig en bevorder voer ’n frustrerende stryd, waar hulle in elk geval meestal aanklank by hul landelike volksgenote vind. Dan is daar die vinnig groeiende groep stedelike Afrikaners wie se stryd bloot gaan om liggaam en siel aanmekaar te hou. Vir hulle verteenwoordig enige etniese stryd ’n vergete luukse.
Die redding van die Afrikaner as volk in die huidige bestel gaan na my mening nie vanuit die stedelike Afrikaner gemobiliseeer word nie. Hiervoor moet nie gewag word nie. Inteendeel, stedelike Afrikaners sou hul hoop, waar daar nog so ’n bewussyn onder stedelinge bestaan, op die landelike Afrikaner kon plaas. Die landelike Afrikaner se etniese wil en dryfkrag is nog in stand. Hul band met die grond en hul gemeenskap maak hulle baie meer kragtig as hul getalryke stedelike volksgenote. „Die Boere sal die volk moet red.“ Die klein groepie hoopvolle stedelinge beskik egter oor ’n globale kennis (vaardighede, opleiding, ens.) wat die Boere sal versterk.
Voordat die Boere enigsins die volk kan red, sal hulle eers hul eie onmiddellike oorlewingstryd moet wen. Daar sal in harder terme met die regering gepraat moet word. Leierskap wat nie sielkundig of ideologies opgewasse is teen die ANC-regering nie moet heroorweeg word. Die ANC-bewind is op ’n ideologiese pad wat nie deur Chamberliaanse mooipraatjies gestuit gaan word nie. Slegs ’n ideologiese styl wat ewe kragdadig oorkom, aan die kant van die Boere, gaan die regering die aftog laat blaas. Boere sal, as deel hiervan, hulself ook vir verskeie scenario’s moet voorberei.
Die huidige benadering stuur SA boere op ’n Zimbabwe-agtige op-die-rug-lê-tipe oorgawe af waar hulle bloot eendag sal wakkerskrik en besef hulle is onkeerbaar onteien. Dan word hulle deel van daardie vinnig groeiende groep Afrikaner- stedelike bywoners, wat van die aalmoese van ‘n snel krimpende en gedemoraliseerde blanke/Afrikanermiddelklas afhanklik is. Dit sal die einde vir ons almal beteken.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.