Noord-Korea het alle bande met Suid-Korea verbreek en het sy ryk buurland met militêre optrede gedreig as hy sou aanhou om Noord-Koreaanse gebiedswaters aan die weskus te betree, is gister bekend gemaak.
Dié waarskuwing is ’n nuwe hoogtepunt in die spanning wat oplaai op die verdeelde skiereiland nadat Noord-Korea na bewering in Maart ’n torpedo afgevuur en ’n Suid-Koreaanse oorlogskip daarmee gekelder het.
Die toenemend oorlogsugtige retoriek het Seoel se geldmarkte erg getref en daartoe gelei dat beleidmakers ’n noodvergadering vir vandag belê het om te kyk hoe hulle beleggers kan gerusstel.
“Die komitee vir die vreedsame vereniging van Korea…verklaar formeel dat hy van nou af vasberade stappe gaan doen om inter-Koreaanse verhoudings volkome te beëindig, om die anti-aggressie-ooreenkoms tussen die noorde en suide op te hef en om inter-Koreaanse samewerking heeltemal te staak,” het die Noord-Koreaanse KCNA-nuusagentskap berig.
Suid-Koreaanse personeel sal ook uit die Kaesong-nywerheidspark, ’n gesamentlike Noord-Suid-onderneming net binne die Noord-Koreaanse grens, gesit word.
Suid-Koreane maak hier gebruik van goedkoop Noord-Koreaanse arbeid en dit voorsien Noord-Korea al ’n geruime tyd van belangrike inkomste.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.