Onlangs lees Herrie In Vrystaat oor die toestand van drinkwater in die provinsie, en ook in Bethlehem en veral omstreke.
Ja, water is net nie meer water nie. Jare lank al bring oupa Nic en ouma Engela hul eie water van Bethlehem, van Erfenis af saam as hulle vir die Herries in Bloemfontein kom kuier.
Van die Engelse loop bodder het met Bloemfontein se fontein, en die ysterklipplaat gebreek het, is die eens sterk fontein nou net ‘n syferwatertjie. Nou drink Bloemfonteiners gesuiwerde rivierwater vol chloor en fluoor en soms e-coli.
Dus bring oupa en ouma hul eie fonteinwater uit hul eie berg saam.
Intussen het die regering daai water ook tot nasionale bate verklaar en so eintlik maar genasionaliseer. En noudat dit die goewerment se water is, is dit ook al vir Herrie of daai watertjie nie meer so lekker vervrissend proes soos eers nie.
Nee wag, nou praat Herrie bietjie twak. Dis baie lekker water daai. Steeds.
Niks kom darem by yskoue fonteinwater as ‘n man op ‘n staptog in die berge is, en dis aan die warm kant nie. Kom mens by so ‘n fonteinstroompie of watervalletjie, is dit darem maar die lekkerste lekkerte van ‘n verkwikking. En altyd yskoud, wat lekker is as mens dit drink, maar lol as mens saans daai sele watertjie moet gebruik om te was. Soos daai rotsgleuf in die berge in die Oos-Kaap wat die stappers as “storthok” gebruik. “Het dit darem ‘n deur?” wil ‘n tante by ‘n stapper weet.
“Nee,” verduidelik hy, “dit het net koue water. Jy hoor al van ver af die gille as daar iemand in die stort is.”
Maar, so het Herrie geleer, as mens regtig warm en dors is, deug enige water vir drink. Soos jare der jare gelede toe Herrie en ‘n maat met die fietse van Stellenbosch na Yzerfontein gery het. Van Darling tot die see was dit grondpad met sulke diep sandstroke. En dit was bloedig warm.
Sommer gou was die waterkanne dolleeg, en toe is dit uitkyk-ry vir enigiets wat water bevat. Gewoonlik veesuipings vol parravissies en muskietlarwes en parraslyk. Maar as mens toe-oë drink, was dit steeds die ene lafenis.
Wat Herrie laat dink aan die slag doer op die grens, toe die generaal-majoor van die Medics ‘n tydelike basis besoek. Hy verneem toe by die troepe hoe hulle hul water drinkbaar kry.
“Generaal sien,” verduidelik die korporaal, “ons gaan skep die water by die rivier. Dan gooi ons dit deur ‘n sif, en dan deur ‘n doek. Dan kook ons dit sewe minute lank, en as dit afgekoel het gooi ons ‘n watersuiweringstablet in. En net om doodseker te maak, drink ons bier.”
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.