Kort na Frans Steyn vir sy oorsese klubspan ‘n skepskop van sestig meter deur die mikke gejaag het, klits Morné Steyn ‘n strafskop van amper net so ver vir die Bulls teen die Crusaders deur die pale.
Hierdie Steyns is miskien nie familie van mekaar nie, maar beide is gebore en getoë Vrystaters.
Loeriesfontein het miskien sy kwota ysterstutte opgelewer – manne soos James O’Kennedy en nou WP Nel wat vir die Cheetahs uitdraf, terwyl die Oos-Vrystaat skynbaar van dieselfde doepa in sy drinkwater het en stutte soos CJ van der Linde, Jannie du Plessis en Faan Rautenbach opgelewer het. Beide Loeriesfontein en die Oos-Vrystaat het legendariese skrumskakels soos Dawie de Villiers en Danie Craven opgelewer.
Maar dit lyk asof die Vrystaat iets in die water moet hê wat sy rugbyspelers skop gee.
Die lys van manne wat bekendheid met monsterskoppe (van dig by die sestig meter tot selfs verder) deur die pale jaag word net al hoe langer.
Die bekendste is moontlik De Wet (Loodvoet) Ras, maar hy is lank nie die enigste nie. As skoolseun het Edrich Krantz in ‘n voorwedstryd vir ‘n toets die toeskouers vermaak deur teen Wes-Transvaal-skole die een torpedo na die ander deur die pale te jaag. Sy eerste probeerslag – na die gereelde skopper droog gemaak het – was ‘n bielie van 67 treë.
Saam met Edrich, wat later self ‘n Springbok geword het, het Gysie Pienaar en De Wet Ras op die toneel verskyn. Gysie is minder dikwels met die skopwerk toevertrou as Ras, maar as dit by langste skop tussen die twee kom, lê hulle bymekaar. Die langste skop uit hierdie era, in ‘n klubwedstryd, behoort egter waarskynlik aan Chris Richter.
Later het André (Joeba) Joubert self ‘n monsterskop of twee deur die pale gejaag. Eric Herbert wat meestal vir Noord-Vrystaat uitgedraf het maar ook ‘n seisoen vir die Vrystaat diens gedoen het, het self ‘n bielie of twee gelanseer.
Dit was eers weer Generaal De Waal wat weer die verbeelding met kanonskoppe gaande gemaak het, maar De Waal is geen gebore Vrystater nie. Meyer Bosman, wat ook min moeite het om skoppe vanuit sy eie gebied oor te klits, is in Bethlehem gebore.
Die Vrystaat het egter nie ‘n volkome monopolie oor langafstand-skerpskutters nie. Met die opkoms van De Wet Ras is hy aanvanklik as heelagter ingesluit, maar die Wit Tornado moes met verbystering sien hoe Noord-Transvaal se Chris Luther – wat self uit posisie op vleuel ingesluit is om sy skopstewel in die span te hê – dié dag die werklike grote deur die pale te jaag en die Blikore se destydse Curriebekerdrome verpletter.
Die legendariese Don Clarke, heelagter van die All Blacks, het self op Springbokpark in Bloemfontein ‘n monster van ‘n skop deur die pale gejaag.
Hoewel dit deesdae hoofsaaklik losskakels of heelagters is wat die skopwerk pale toe waarneem, was daar ‘n rits slotte wat soos John Eales van Australië heel handig was met hul skopvoete. Weens hul grootte het van hierdie slotte self ‘n paar monsterskoppe oorgeklits. Jan Tromp se skop van 58 meter vir Wes-Transvaal teen die All Blacks het die oë laat rek, veral omdat die bal so hoog oor dwarslat geseil het. Frik du Preez het bekendheid verwerf vir sy “gedrop, geplace en gescore.”
Ander bekende slotte wat ook die bal kon sool dat hy klein word soos dit afsit pale toe was die Springbokke Tiny Naudé en Hennie Bekker. Bekker het self ‘n draai deur die Vrystaat gemaak.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.