Op die internet tik die voornemende reisiger bloot die land wat hy wil besoek in die ruimte, en siedaar, die Departement se eie veiligheidsrisiko-ontleding word voorgehou.
Suid-Afrika moet skynbaar tot Woensdag wag om te sien hoe gevaarlik hy deur ‘n Kaasbril lyk. Met ‘n hele paar Nederlandse burgers die afgelope aantal jare in Suid-Afrika aangeval, en onder meer ‘n bejaarde dame in Witbank vermoor, sal die gasheerland vir vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi seker nou nie heel bo-aan die lys van veilige lande pryk nie.
Of dit bloot ‘n misdaadveiligheidsrisiko behels, is nie duidelik nie.
Ek het dus my bedenkinge of die Nederlanders regtig sal weet hoe gevaarlik dit vir hulle kan wees om te kom sokker kyk.
Uit die berig kan ek nie agterkom of Nederlanders ook te wete sal kom hoe gevaarlik dit is om in watter staatshospitaal hier te beland nie. Of wat die kanse is dat ‘n mens met toerbus en al in ‘n slaggat kan verdwyn nie.
Of dat Eskom die krag van die munisipaliteit waar mens oornag kan afskakel en noodsaaklike medisyne nie koud gehou sal kan word nie.
Of die advies ook advies gaan insluit oor hoe groot ‘n mens se strikkiegriep-kanse is om by die verskillende lande se dames van die nag aan te doen, is ook nie duidelik nie.
Ook nie of dit advies gee oor mense se kanse wat dit waag om ‘n rofieraaid in ‘n minibustaksie te onderneem nie.
Ek bedoel, vir ‘n Nederlander is dit half riskant om hier sy eie taal te gooi. Hy kan byvoorbeeld ‘n preek by ‘n sieletiffie op die lyf loop deur te meld hoe fraai die kat is wat by die deur instap – dis nou in Nederlands.
Hy kan dalk deur sy gasheer- en –vrou in die kooi geprop word as hy meld hoe vaak (bedoelende dikwels) dit hier lawaaierig raak.
En as mens jou Nederlandse gas vir ‘n potjie tennis nooi, wees tog versigtig om vir hom te sê hy kan kies tussen die rakette. Want vir Nederlanders is raketten die goed waarmee die Israeli’s en Palestyne mekaar bestook. Dit kan dalk net nodig wees om hom hierna onder die bed te gaan uitsleep.
Nou die dag lees ek van ‘n nagemaakte mastodon – ‘n soort oerolifant wat in ‘n natuurtuin gemaak staan is. ‘n Mens kan, skryf die koerant, agterkom dis nagemaak deur die dierasie met die hand op die k*nt te klop. Ek het nie ‘n benul wat die koerant hiermee bedoel het nie, maar wat ek wel deeglik weet, is dat ‘n Nederlander wat hier vir sy gasheer sê hy het sy gasvrou ‘n kloppie daar gegee, in een van die berugte hospitale gaan beland.
Dít is hoekom ek sê ek weet nie of daai internetdiens die ding gaan doen nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.