praag.co.za

Die gesprek oor Afrikanervryheid – ‘n bydrae

Written by

in

Deelname aan die gesprek oor die politieke toekoms van die Afrikaner is belangrik. Deur deelname kom die verskille, maar belangriker as dit, ook die ooreenkomste na vore. ‘n Belangrike voorwaarde in die gesprek is dat dit nie platvloers mag word nie en dat dit ook nie verpersoonlik sal word nie.

Die onderliggende motief in die gesprek lê in die begrip selfbeskikking opgesluit. Uiteraard sal selfbeskikking deur verskillende persone verskillend verstaan word. Vir die doeleindes van hierdie bydrae word dit gewoon omskryf as die fundamentele reg van volkere om hulleself binne ‘n plurale samelewing, soos SA,  op ‘n eie en andersoortige wyse as die res uit te leef.

‘n Tweede voorwaarde vir die gesprek is dat ‘n veranderde konteks nuwe antwoorde en oplossings vra. So is antwoorde voor 1993 anders as ná 1993. In 1993 was ek deel van ‘n debat op die Hoofbestuur van die VF oor hoe ‘n (verknegte) volk bevry kon word. My inset daardie tyd was:

  • Dat ‘n eie konstitusionele model of staatsbeskouing binne die raamwerk van ‘n party geformuleer moet word; ‘n standpunt wat ooreenkom met Danie Goosen se republikeinse ideaal.
  • Dat ‘n sekerheidsnetwerk, wat fondse kan genereer, geskep word, analoog aan die huidige private maatskappye, met ‘n goedopgeleide elite-korps wat in noodtoestande ontplooi kan word.
  • Dat die bevrydingstryd deur frontorganisasies in Dietse lande geïnternasionaliseer word, analoog aan die metodiek wat die Russe die sg. “bevrydingsbewegings” geleer het.
  • Dat daar ruimte vir ‘n radikalistiese groep gemaak word.
  • Dat ‘n Afrikanergedomineerde ekonomie as wapen gebruik word in onderhandeling.

My inset is toe nie ernstig geneem nie en is ‘n politieke pad gevolg wat, as verkiesingsuitslae enigsins ernstig opgeneem moet word, ‘n doodloopstraat (cul de sac) was. Intussen het die politieke konteks verlê na dié van ‘n falende staat wat diskrimineer teen wittes.

Insgelyks verskans die Grondwet (1996) ‘n regsbeginsel dat SA een ondeelbare staat vir  almal is. Hieruit is dit duidelik dat dit op demokratiese wyse onmoontlik sal wees om die beginsel van geografiese selfbeskikking tot sy logiese konsekwensie deur te voer.

Dit is ook eenvoudig so dat ‘n vestiging van Afrikaners op een gekonsolideerde of meerdere voorkeurvestigingsgebiede eers de jure erkenning kan kry as dit de facto ‘n  werklikheid is. Die blinde geloof in 1993 dat die ANC, in terme van artikel 235, ‘n volkstaat vir die Afrikaners sou gee, was gewoon onrealistiese dagdromery.  Dit is nou nog minder realiseerbaar.

Die vraag is dus wat ons nou binne hierdie immer veranderbare en veranderlike konteks moet doen. My voorstel is die volgende:

  1. Koordineer alle bestaande kultuur-, taal- en godsdiensorganisasies in ‘n konfederale werksverband, sonder uitsluiting van sommiges (Israel van ouds was ‘n konfederasie van twaalf stamme).
  2. Bring ‘n verteenwoordigende Afrikanerraad tot stand, met portefeuljes vir bekwame leiers om die raad van situasierapporte te bedien.
  3. Bring alternatiewe strukture of organisasies (bv. Afrikaner- opvoedkundige instellinge) tot stand, elke keer as die owerheid ‘n bestaande instelling vir hulleself annekseer, soos tans die geval is.
  4. Gebruik die Afrikanerraad om met die owerheid te onderhandel en ook om die saak te internasionaliseer, as daar geen vordering is nie (die eksodusmotief in bevryding).
  5. Bemoedig Afrikaners om in stedelike gebiede in bepaalde woonwyke hulle getalle te konsolideer.
  6. Bemoedig Afrikaners wat kan om in voorkeurvestigingsgebiede, soos Orania, te woon.
  7. Depolitiseer die derde vlak van regering deur kandidate van die Afrikanerraad in woonwyke in te stem.
  8. Soek, onderhou, en bou kontak met tradisionele gemeenskappe en leiers en skep alliansies om die reg op selfbeskikking breër as net ‘n reg van Afrikaners uit te bou.
  9. Skep ‘n samewerkende politieke meganisme of party op die eerste vlak van regering om die idee van selfbeskikking te dra en te verwoord.

Wat die samewerkende politieke meganisme of party betref, word die volgende beleidsbeginsels kortliks aangestip:

  • Die ideaal van ‘n gedesentraliseerde regstaat wat nie net individuele burgerregte beskerm nie, maar ook gemeenskapsregte.
  • Die formulering en formalisering in terme van artikel 234 van die Grondwet, van aktes vir taal, godsdiens en kultuurregte.
  • Devolusie van mag van die kleins moontlike sentrale regering na gedepolitiseerde plaaslike owerhede wat gemeenskappe deur effektiewe dienslewering bedien.
  • Dramatiese en progressiewe hersiening van die Grondwet van SA vanaf ‘n liberaal-demokratiese grondwet na ‘n grondwet wat vir konsosiatiewe demokrasie en gemeenskapsregte voorsiennig maak.

Dit is duidelik dat bg. model ‘n liberale regstaat sowel as ‘n sosialistiese magstaat vervang. Uit bg. model kan ‘n konfederale losser verhouding tussen verskillende gemeenskappe  bevorder word. Hierdie konfederale model kan dus op die langer termyn lei na geografiese selfbeskikking binne die konteks van ‘n konfederale regstaat, analoog aan die Europese Unie.

‘n Kortpad is daar inderdaad nie!

play slots forДанильченко Харьков

Comments

Leave a Reply