Interpol en Kenia se Nasionale Wildbewaringsorganisasie het ná ’n klopjag op winkels en voertuie, beslag gelê op sowat 1 768 kg onwettige olifantivoor.
Die operasie is oor ses lande uitgevoer en het nagenoeg drie maande geduur.
Owerhede het ook beslag gelê op ander onwettige diereprodukte soos die pels van luiperde én krokodil en- slagvelle, het Awad Dahia, die hoof van Interpol in Oos-Afrika gesê.
Dahai het aan die media gesê dat die operasie die internasionale polisie-organisasie, wildbewaringsorganisasies, die polisie en die departemente van doeane van Boeroendi, Ethiopië, Kenia, Rwanda, Tanzanië en Oeganda ingesluit het.
Kenia se wildbewaringsorganisasie het sowat 65 mense in hegtenis geneem wat drie Chinese, drie Tanzaniërs en 59 Keniane insluit.
Patrick Omondi, die hoof van Kenia se organisasie vir die bewaring en die bestuur van die land se dierespesies, het gesê die operasie is onderneem, omdat wildstropery drasties toegeneem het.
Meer as 216 olifante is vanjaar doodgemaak in vergelyking met slegs 47 wat in 2007 doodgemaak is.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.