Dokumente wat deur ‘n toonaangewende Poolse nuustydskrif, Wprost, in die hande gekry is, bevestig dat Rusland en Belarus gedurende ‘n gesamentlike militêre oefening, ‘n gesimuleerde aanval op Pole uitgevoer het.
Die oorlogspeletjies, wat glo in September gehou is en ongeveer 13 000 soldate van Rusland en Belarus ingesluit het, het Pole erg onthuts gelaat.
Die oefening het gewapende magte wat kernmissiele afvuur en amfibiese landings doen ingesluit.
Tydens die manuevers is Pole, wat reeds ‘n moeilike verhouding met Rusland het, in die rolverdeling van die “potensiële aggressor” geplaas.
Die oefening, met die kodenaam “Wes”, is amptelik as “defensief” geklassifiseer, maar het meer die aard van ‘n offensiewe oefening gehad.
Die Russe het geoefen om kernwapens van hulle arsenaal mbv die lugmag aan te wend, terwyl die Rooi Leër in die aangrensende Kaliningrad ‘n “Poolse strand” binnegeval het asook ‘n gaspyplyn aangeval het.
Die oefening het ook die gesimuleerde onderdrukking van ‘n opstand deur ‘n nasionale minderheid in Belarus ingesluit. Belarus het ‘n aansienlike aantal Poolse inwoners wat op gespanne voet met die outoritêre owerhede in die land verkeer.
Karol Karski, Poolse parlementslid, gaan vrae oor die Russiese oorlogspeletjies in die parlement ter tafel lê en het protes aangeteken by die Europese Kommissie.
‘n Kollega, Marek Opiola, sê die hele oefening was daarop gemik om Pole op sy plek te sit. “Moenie vergeet dat alles op die sewentigste herdenking van die Sowjetinval in Pole gebeur het nie.”
Poolse burgers was ontstoke oor die nuus van die oefening en het by die regering aangedring op ‘n ferm reaksie.
‘n Inwoner het gedurende ‘n radio-onderhoud met Polskie Radio gesê die Pole moet nou ophou draadsit en getel word as of ‘n patriot of ‘n verraaier.
Donald Tusk, Poolse eerste minister, wat ‘n pragmatiese verhouding met die Kremlin probeer onderhou, is uitgesonder vir kritiek. Stemme oor ‘n breë politieke spektrum het hom reeds gemaan om sy verhouding met die Russe af te koel.
Die Poolse minister van verdediging, Bogdan Klich, het gesê die oefening is ‘n vertoon van mag en dat hulle die bewegings van oorkant die grens fyn dophou.
Wladyslaw Stasiak, hoof van president Lech Kaczynski se kantoor en voormalige nasionale veiligheidshoof, het gesê: “Ons het nie van die aanskyn van die oefeninge gehou nie en die naam klink soos iets uit die dae van die Warskouverdrag.”
Die invloedryke Lech Walesa en Vaclav Havel, het in Julie dié jaar ‘n ope brief aan president Barack Obama gerig waarin hulle hom waarsku dar Rusland ”’n revisionistiese mag is wat ‘n negentiende eeuse agenda najaag met die taktieke en metodes van die 21ste eeu”.
Moskou en Minsk hou egter vol dat Operasie Wes ten doel gehad het “om die strategiese stabiliteit van Oos-Europa te verseker”.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.