Dinosourus-tand van Knysna vir navorsing geskenk

‘n Dertienjarige seun aan die Tuinroete het Knysna op die land se argeologiese kaart geplaas deur ‘n tand van ‘n dinosourus te ontdek.

Die seun, Ben Ingel, het die tand in ‘n klip van klei op ‘n Knysna-strand, twee jaar terug gekry en pas besluit om dit te skenk vir wetenskapnavorsing.

Ingel het egter sy bevinding veilig bewaar, totdat kenners die week bevestig het dat die tand afkomstig is van ‘n massiewe vleisvretende dinosourus uit die familie Allosaurus.

OFM-nuus se korrespondent Louise Karsten berig dat ‘n navorser in fossiele, dr. Robert Gess van die Albanymuseum op Grahamstad sê toe Ingel ‘n foto van die tand aan hom stuur, het hy onmiddelik geweet dat dit ‘n tand van ‘n dinosourus is.

Gess sê die tand sal verder geanaliseer word, maar hy skat dat dit sowat 120 miljoen jaar oud is.

Hierdie bevinding is die eerste van sy soort op Knysna.

Maak 'n opvolg-bydrae