Cambridge-universiteit is gister daarvan beskuldig dat hulle slawerny en rassisme ondersteun deur 'n deftige bal te hou om die uitspattighede van die Britse ryk te vier.
Emmanuelkollege is die gasheer vir die "Ryksbal" ter ere van die "Victoriaanse statebond en al sy dekadensie" teen 'n prys van R1 360 per kop.
Maar daar was woede van anti-rassistiese groepe omdat studente aangemoedig is "om partytjie te hou asof dit 1899 is – die jaar waarin die Boereoorlog begin het en konsentrasiekampe die eerste keer gebruik is."
Plakkate wat die geleentheid adverteer het gelees: "Eens was daar 'n koninkryk wat 'n kwart van die wêreld se bevolking regeer het, wat omtrent dieselfde verhouding van die wêreld se grond oorheers het en byna al die oseane gedomineer het."
"Hulle het gesê dat die son nooit ondergaan op die Britse ryk nie – maar by die ryksbal sal jy wens dat dit nooit opkom nie."
"Reis saam met ons na die Indiese Raj, 'n ontluikende Australië en die Wes-Indiese eilande. Ons nooi jou uit om die Pax Britannica te ervaar en partytjie te hou asof dit 1899 is."
Teenstaanders het die tema as "kwetsend" beskou en die organiseerders beskuldig dat hulle "wit snobiste uit die boonste klasse van die samelewing" is.
'n Groot ongelukkigheid het uitgebreek onder die studente by die kollege – ook bekend as onder studente as "Emma" – op die sosiale netwerk Facebook.
Die Ryksbal, wat plaasvind op 14 Junie, is die jaareindfunksie vir die kollege en daar word van meeste studente verwag om dit by te woon.
Maar dosyne het kommer uitgespreek oor die tema op die Facebook-groep 'Emma against the empire' wat eis dat die tema laat vaar word.
Studente het weersin getoon omdat dit in 1899 was wat Brittanje 'n driejarige-oorlog teen die Boere begin het in wat nou Suid-Afrika is.
Die konflik word gesien as 'n donker hoofstuk in die imperiale geskiedenis, waarin daar massas plaaslike mense bymekaar gemaak is in kampe, wat later Hitler se doodskampe geïnspireer het.
Die Britse ryk, wat lank terug 'n kwart van die wêreld beslaan het, word ook beskuldig dat hy slawerny en uitbuiting in Afrika en Asië laat voortbestaan.
"Kolonialisme word geassosieer met onderdrukking, uitbuiting en slawerny. Ons is nie oorsensitief nie, maar mens moet êrens 'n streep trek. Vir 'n vooraanstaande universiteit soos Cambridge is dit verbasend hoe oningelig sommige mense kan wees."
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.