President Barack Obama, wat na sy oorwinning in die verkiesing bekommerd was dat hy sou moes afstand doen van sy verslawende Blackberry-foon weens veiligheidsredes, sal nou tog dié itempie kan behou.
"Die president het 'n Blackberry deur middel van 'n kompromis wat hom in staat sal stel om op 'n beperkte manier met senior personeel en 'n klein groepie persoonlike vriende in kontak te bly," het 'n woordvoerder van die Withuis, Robert Gibbs, gesê.
Die toestel se sekuriteit is wel opgeskerp, het hy gesê.
Obama, wat Dinsdag as president ingesweer is, is bekend as 'n ywerige gebruiker van die mobiele toestel wat deur Research In Motion Ltd. vervaardig word en het druk van sy personeel om die toestel prys te gee, weerstaan.
Presidensiële e-posse word beskou as openbare rekords, het Gibbs gesê en dus is dit onderworpe aan openbare blootstelling wanneer die president se termyn verby is.
Nóg president George W. Bush nóg Bill Clinton het van e-pos gebruik gemaak gedurende hulle termyne as presidente.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.