Die Palestynse owerheid sal nie toelaat dat Hamas Gasa in 'n "separatistiese entiteit" verander in die nadraai van Israel se oorlog teen die gebied nie, het 'n senior beampte van president Mahmud Abbas Donderdag gesê.
"Ons sal nie toelaat dat 'n separatistiese entiteit geskep word nie, maak nie saak wat die koste is nie," het Yasser Abed Rabbo aan 'n perskonferensie gesê.
"Die komplot om Gasa van die Wesoewer af te sny, sal nie toegelaat word nie."
Abbas beheer Gasa nie meer sedert Junie 2007 nie, toe die Islamitiese Hamas magte wat lojaal was aan sy sekulêre Fatah-party uit die kusstrook verdryf het.
Abed Rabbo het Hamas se politieke hoof, Khaled Meshaal, wat in ballingskap verkeer, daarvan beskuldig dat hy "slagspreuke en bloedvergieting in Gasa misbruik om sy separatistiese projekte mee te verdoesel".
Hy het ook "Hamas-bendes" in Gasa daarvan beskuldig dat hulle dosyne Fatah -ede onder huisarres geplaas het en ander "gearresteer het, geslaan het en in die bene geskiet het".
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.