Ek was verstom om te verneem dat die Gelykheidshof Penny Sparrow met ‘n allemintige R150 000 beboet het. Mense wat ernstige misdade soos aanranding of dwelmhandel pleeg, kom dikwels weg met ‘n veel kleiner boete, dikwels so min soos R1000.
Tweedens is ek nie seker daar bestaan eens so ‘n persoon soos sy nie. Me Sparrow het nie eens by haar verhoor in Suid-Afrika se kangaroehof opgedaag nie. As ons egter aanneem dat daar inderdaad so ‘n persoon is, en sy nie net ‘n fiktiewe Lee Harvey Oswald-tipe sondebok is nie, vind ek dit ook moeilik om te begryp presies waaraan sy presies skuldig is.
Die linkse Rand Daily Mail berig byvoorbeeld hier dat me Sparrow skuldig bevind is aan “racist speech.” Ek is geen regsgeleerde nie, maar ek het nog nooit van ‘n gedefinieerde regsterm bekend as “racist speech” gehoor nie. Bestaan daar so ‘n definisie in die Suid-Afrikaanse reg? Daar is wel iets soos haatspraak, maar haatspraak het ‘n baie eng definisie: Dit is spesifiek uitlatings wat geweld teenoor ‘n groep aanhits (“Kill the Boer”). Om bloot te kla oor rommelstrooiery op strande, voldoen baie beslis nie aan hierdie definisie nie. Lee Harvey Sparrow het ook nie op Facebook aanbeveel dat rommelstrooiers fisieke leed aangedoen moes word nie, dus kan sy nie skuldig wees aan die eng definisie hierbo verskaf nie.
Waar daar wel in die verlede rassistiese insidente was, was die regsmenings waarvan ek gelees het dit eens dat die klag van crimen iniuria eerder teen die beweerde rassis gebruik moes word. Lee Harvey Sparrow is egter juis nie van crimen iniuria aangekla nie. Weer eens, ek is geen regsgeleerde nie, maar ek sou dink ‘n suksesvolle vervolging vir crimen iniuria sou vereis dat ‘n indiwiduele klaer sou moes kon bewys dat sy eer of aansien regstreeks gekrenk is deur Lee Harvey Sparrow se uitlatings. Dit was egter die ANC wat die klag teen haar ingedien het en nie een van diegene waarna sy verwys het nie, naamlik die rommelstrooiers op die strande nie.

Dit was dus ‘n soort klasaksie teen Lee Harvey Sparrow namens ander mense, en die betrokke klas van klaers blyk meestal uit professioneel gekrenkte politici te bestaan. Lee Harvey Sparrow het dit duidelik gehad teen ‘n baie spesifieke groep: Rommelstrooiers. Het daar een enkele rommelstrooier, in sy indiwiduele hoedanigheid, ‘n klag teen Lee Harvey Sparrow ingedien omdat hy skaamkwaad was oor sy eie gedrag op die strand? Nee; die politici het eerder namens die rommelstrooiers besluit húlle eer is gekrenk. As ek op straat loop en toevallig hoor hoe Jan vir Piet ‘n donkie noem, mag ek dus namens Piet ‘n klag gaan indien, al maak Piet nie self so nie?
Die grootste probleem wat die politici het, skyn te wees dat Lee Harvey Sparrow geskryf het dat swart rommelstrooiers op strande apies sou wees. Dit is uiteraard nie letterlik bedoel nie, en sulke vergelykings is algemeen. Hillary Clinton het byvoorbeeld, met verwysing na oudpresident Clinton se seksuele eskapades, gesê dat “(Clinton) is not an easy dog to keep on the porch”. Me Clinton moet haar sterre dank dat sy nie in SA woon nie, want Bill sou haar maklik voor die kangaroehof kon sleep en haar daarvan verkla het dat sy beweer hy is letterlik ‘n hond. Ons kinders sou ook destyds my ouers ook kon verkla dat hulle gese het ons was varkies omdat ons kamers so omgekrap was.
Niemand, behalwe die professionele slagoffers in Suid-Afrika, is egter so onnosel om te wil hof toe hardloop oor so ‘n onbenulligheid nie. Bill Clinton sou verstaan het dat Hillary bedoel het hy gedra hom soos ‘n rondloperhond, en nie dat hy letterlik ‘n stert en skerp tande het nie. Ek en my sussies het eweneens verstaan dat ons ouers nie bedoel het dat ons letterlik otjies was nie, maar dat ons ons eerder soos varke gedra het. Mens noem dit ‘n vergelyking of dan ‘n metafoor, en die vergelyking met dierlike gedrag handel duidelik oor ‘n bepaalde gedragspatroon.
Al hierdie dinge klink vir my heeltemal te vreemd en die uitspraak is eintlik soos ‘n boendoehof s’n vir my. Siende dat dit nou egter aanvaarbaar is om iemand kangaroehof toe te sleep vir ‘n dieremetafoor, en as dit dan wel gaan oor veralgemenings wat teen ganse groepe gemik is, wat maak mens dan oor die talle skelwoorde en beskuldigings wat daagliks teenoor blankes geslinger word? “White privilege”, “gronddiewe” en dies meer? Is dit nie tyd dat blankes ook namens ons eie pro-forma-slagoffer, ons eie Lee Harvey van der Merwe, ‘n klag by die kangaroehof indien omdat ons as groep die uitsprake van die ganse ANC en EFF grof kwetsend vind nie?
– John Visagie

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.