Cholera het in Zimbabwe reeds 1,123 mense gedood, sê die Verenigde Nasies en voeg by dat die getal sal aanhou groei indien daar nie maniere gevind word om die land se onderbetaalde dokters en verpleegsters te kry om terug te keer werk toe nie.
Choleragevalle het sedert die uitbraak in Augustus begin het, gestyg tot 20 896, sê die wêreldorganisasie.
Die VN se gesondheidsagentskap sê cholera versprei in Zimbabwe weens sanitasiestelsels wat swak onderhou is, ongebreidelde inflasie wat dokters en verpleegsters swaar tref en 'n gebrek aan skoon drinkwater.
"Ek het hospitale gesien wat basies leeg is," sê Dominique Legros, 'n choleradeskundige by die Wêreldgesondheidsorganisasie.
Legros sê die situasie sal so bly indien die WGO en die Zimbabwiese regering nie 'n plan kan maak om die salarisse van gesondheidswerkers te verhoog nie.
Die nuutste WGO-syfers toon dat die cholerasterfkoers op 5,4 persent staan. Die VN-agentskap sê dit is noodsaaklik om dit onder die een persent te kry om die uitbraak te beheer.
Die Internasionale Rooikruiskomitee sê dat hulle het begin om huise van cholerapasiënte in Zimbabwe se hoofstad Harare, die gebied wat die swaarste getref is, te ontsmet.
Die uitbraak het ook verskuif na naburige lande.
Die Internasionale Organisasie vir Migrasie sê hulle is besig om cholerabehandelingsentra op te rig teenaan die grense van Suid-Afrika en Botswana om te keer dat die siekte verder oor die grense versprei.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.