praag.co.za

Russiese premier sê Navo wil nuwe Koue Oorlog hê

Written by

in

,

Die Russiese premier, Dmitri Medwedef, het Saterdag gesê ‘n nuwe Koue Oorlog met die VSA en dié se bondgenote dreig.

Dit was ‘n bedekte hou in die rigting van die VSA wat steeds ‘n oplossing in Sirië bemoeilik.

Hy sê die spanning duur voort vanweë die konflik in Oekraïne, Rusland se ondersteuning van die Siriese regering en wat hy noem ‘n onvriendelike Navo-beleid teenoor Rusland.

Medwedef het ‘n veiligheidskonferensie in München in Duitsland toegespreek. Hy het Navo en die Europese Unie ook gekritiseer vir hul betrokkenheid in Oos-Europa in weerwil van beloftes tot die teendeel.

Die sekretaris-generaal van Navo, Jens Stoltenberg sê Rusland, die Verenigde State en ander nasies moet voortgaan om te fokus op hul doelwitte in Sirië.

Die VSA sal glo Awacs-vliegtuie stuur omdat enige direkte ingryping op die grond heeltemal uitgesluit is, sê waarnemers.

Die sterk moontlikheid bestaan dat die VSA “gematigde rebelle” dus slegs indirek sal ondersteun dmv ‘n Arabiese invalsmag om Sirië te probeer verdeel in ‘n oostelike sowel as ‘n westelike deel.

Só ‘n stap sal Turkye en Saoedi-Arabië dwing om alleen verantwoordelikheid vir hul troepe in Sirië te aanvaar, sonder direkte Amerikaanse ingryping.

Stoltenberg het gesê bomaanvalle teen opposisiegroepe in Sirië wat die regering tot ‘n val wil bring, moet tot ‘n einde kom en ‘n ooreenkoms bereik word.

Stoltenberg het by die Veiligheidskonferensie in München teruggeval op die supermoontheid-retoriek van die vorige eeu, en gesê Rusland gebruik sy kernarsenaal om Europa te intimideer.

Rusland, Europa en die VSA sê hulle poog om ’n einde aan die Siriese ­konflik te bring, die spanning in die ooste van die Oekraïne te verlig en saam te werk om Europese ­ekonomiese sanksies teen Rusland te lig.

“Maar Navo se politieke houding teenoor Rusland bly maar onvriendelik en geslote,” het Medwedef in sy toespraak gesê. “Ek kan dit nie sterker stel nie: Ons is nou in die era van ’n nuwe Koue Oorlog.”

Jens Stoltenberg, sekretaris-generaal van Navo, het in sy toespraak gesê die Russiese president, Wladimir Poetin, moet ophou om lande wat aan sy land grens met sy kernwapens te dreig, maar nie kommentaar gelewer op die feit dat die VSA wapens en troepe mobiliseer dmv Navo nie.

Die VSA het reeds elke belofte om Navo nie uit te brei na voormalige Warskou-verdraglande nie, gebreek.

In Genève het Rusland en die Verenigde State egter vroeër ooreengekom dat enige skietstilstand nie jihadiste en hul bondgenote sal insluit nie, in ‘n poging om Siriese opposisiegroepe wat hulself nie wil losmaak van al-Qaeda en ISIS nie, as wettige teikens te maak.

Comments

4 responses to “Russiese premier sê Navo wil nuwe Koue Oorlog hê”

  1. JESSEJAMES Avatar
    JESSEJAMES

    Ek is seker dat Navo ‘n warm oorlog ook wil hê!

  2. Rifrug Avatar
    Rifrug

    “Die Russiese premier, Dmitri Mededef …” moet seker wees ‘Medwedef’

    1. Rifrug Avatar
      Rifrug

      Ek sien dit is reggemaak … Dankie Praag

  3. Gas Avatar
    Gas

    Kyk net die voortreflike demokrasie wat in proses is om na Sirië uitgevoer te word, alles net deurdat Amerika en Navo ‘n “outokraat” wil afsit: http://www.zerohedge.com/news/2016-02-13/autocracy-vs-democracy-stunning-and-after-pictures-syrias-largest-city . Nou wonder ‘n mens hoe sal so ‘n fotobeeld van ons eie land daar uitsien, dink maar net aan woonbuurte soos Hillbrow en Sunnyside.

Leave a Reply