Iran het nuwe Amerikaanse sankies teen die Islamitiese Republiek veroordeel en gesê dit is onwettig.
Die land sal voortgaan om konvensionele militêre toerusting te ontwikkel, het Reuters berig.
Amerika het Sondag sanksies teen 11 maatskappye en individue, wat verskaffers vir Iran se ballistiese missielprogram is, aangekondig onder druk van Israel.
Die aankondiging is met twee weke vertraag om nie die naweek se vrylating van Amerikaanse gevangenes in gevaar te stel nie.
Ondertussen is die lot van die voormalige FBI-agent, Robert Levinson, onbekend nadat hy in 2007 in Iran verdwyn het. Hy was nie deel van die uitruiling van gevangenes tussen Iran en Amerika die naweek nie.
“Die Islamitiese Republiek sal op hierdie verswarende en propagandistiese maatreëls reageer deur sterker as ooit voort te gaan met sy wettige missielprogram en om sy verdedingsvermoë te ontwikkel,” het die ministerie van buitelandse sake in ‘n verklaring gesê.
Iran het in Oktober 2015 missieltoetse uitgevoer wat deur die Verenigde Nasies bestempel is as ‘n verbreking van ‘n resolusie, wat die land verbied om missiele te ontwikkel wat kernplofkoppe kan dra.
Iran hou vol die missiele dra bloot konvensionele wapens.
‘n Woordvoerder vir die buitelandse ministerie, Hossein Jaberi Ansari, sê Washington se verkoop van wapentuig aan sy bondgenote in die Midde-Ooste, ter waarde van miljarde dollars jaarliks, word in “oorlogsmisdade teen Palestyne, Libanese en Jemeense burgers” gebruik.
“Die Amerikaanse sanksies teen Iran se ballistiese missielprogram het geen wettige of morele legitimiteit nie,” het hy gesê.
Die koerante, Kayhan en Vatan-e-Emrooz het die nuus op hul voorblaaie uitbasuin. “Sanksies is terug!” het die opskrif in Kayhan gelui.
In die artikel word Teheran se opperleier, die ajatolla Ali Khamenei, aangehaal wat sê dat nuwe sanksies, onder enige voorwendsel, ‘n verbreking van die kern-ooreenkoms sou wees.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.