Droogte kan lei tot meer GM-gewasse in Afrika

‘n Knellende droogte het tot wydverspreide misoeste gelei. Die droogte raak lande in Suider-Afrika.

Van dié lande kan binnekort oorreed word om geneties gemanipuleerde gewasse te aanvaar om oeste te verbeter.

In talle Afrikalande word geneties gemanipuleerde gewasse verbied weens die langtermyn gesondheidsgevolge wat dit mag inhou.

Die hulpagentskap Oxfam sê tien miljoen mense op die vasteland word tans deur hondersnood bedreig en word genoop om graan in te voer.

Voorstaanders van GM-gewasse sê Afrikaboere sal waarskynlik die meeste baat vind by die verminderde gebruik van insekdoders, laer produksiekoste, hoër opbrengste en hoër pryse vir hulle gewasse.

AgriSA het intussen ‘n beroep op die regering gedoen om die droogte in die land tot ‘n nasionale ramp te verklaar.

Die uitvoerende direkteur van die organisasie, Omri van Zyl sê huishoudings se drinkwater droog op en vee vrek weens die droogte.

Noordwes, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat is tot rampgebiede verklaar. Volgens ekonome sal sowat vyf miljoen ton mielies waarskynlik ingevoer moet word.

Van Zyl het aan RSG gesê as dit gebeur sal die onbestendige rand voedselinflasie die hoogte laat inskiet wat die ekonomie verder sal knou.

Lesotho het water beskikbaar gestel aan droogtegeteisterde Suid-Afrikaanse dorpe uit die Katsedam.

Inwoners van Aliwal-Noord in die Oos-Kaap het volgens berigte al begin water bedel van motoriste wat deur die dorp ry.

‘n Woordvoerder van die departement van Waterwese, Sputnik Ratau, sê hulle wil die watervlakke in die Bo-Oranjerivier stabiliseer vir gebruik in die Joe Gwqabi distriksmunisipaliteit.

2 thoughts on “Droogte kan lei tot meer GM-gewasse in Afrika”

  1. In SA is geneties gemanipuleerde gewasse jare gelede bekend gestel.Kyk na die PIONEER en MONSANTO borde langs die mielielande.Die GM soorte sterf net so vinnig indien nie vinniger as plaaslike variante uit onder die droogte, dit is net n kopgesmokkelry om markaandeel te vergroot.

  2. So sal Monsanto natuurlik beheer oor die voedselbronne van die vasteland kry. Dit is die ding wat my die bangste maak, nie Joemat (te) Pletterson en kernkrag nie, maar voedselbronne in die hande van multinasionale maatskappye.

Maak 'n opvolg-bydrae