Afrikaleiers uit die suide van die kontinent en die Groot Mere-streek het vredesbeamptes aangebied as dit nodig sou wees om die oostelike streek van die Demokratiese Republiek van die Kongo te stabiliseer waar onlangse gevegte derduisende burgerlikes ontwortel het.
Lande in die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het na 'n spitsberaad die naweek gesê hulle sal militêre raadgewers na die oostelike Kongo stuur om die regering van DRK President Joseph Kabila te help.
Die uitvoerende sekretaris, Tomaz Salomao sê die SAOG sal 'n vredesmag na die Kongo stuur "as en wanneer" dit nodig is. Nkunda, wie se Tutsirebelle met die Kongo se regeringsmagte en hulle Rwanda-Hoetoe rebelle in gevegte betrokke is, sê hy sal Afrikavredesbeamptes as 'n onpartydige mag verwelkom om vrede in Noord Kivu te herstel.
Die Verenigde Nasies wat reeds die grootste vredesmag in die wêreld – 17 000 man — in die DRK het, soek nog 3 000 ekstra soldate om sy operasies daar te versterk.
Die VN sê sy bestaande mag is uitgestrek oor 'n gebied so groot soos Wes-Europa, waar dit van gewapende groepe wemel. Dit is nie onmiddellik duidelik of die voorgestelde Afrikavredesbeamptes onder mandaat van die VN of afsonderlik sal opereer nie.
Leiers van die Groot Mere-streek waaronder Rwanda se president Paul Kagame, het Vrydag op 'n spitsberaad in Nairobi vir 'n skietstilstand en 'n politieke skikking in Noord Kivu gevra, maar sê hulle sal vredesbeamptes stuur as dit nodig is.
Die DRK-regering het Angola, sy suidelike buurman wat hom tydens die 1998 tot 2003 oorlog gesteun het, weer om hulp gevra. Die swak en chaotiese Kongolese nasionale weermag het ineengestort teen die gedetermineerde opmars van Nkunda se geharde guerrilla-mag van ongeveer 4 000. Die verskyning van meer gedissiplineerde Portugees-prekende soldate aan regeringskant in Noord Kivu het gerugte laat ontstaan dat Angola reeds soldate na ooste van die DRK gestuur het.
'n Woordvoerder van Angola se departement van buitelandse sake het dit egter ontken. Ondanks beroepe deur die VN en Afrikaleiers vir 'n skietstaking in Noord Kivu, het sporadiese gevegte die afgelope naweek voortgeduur en humanitêre pogings om derduisende vlugtelinge wat skuiling, kos en mediese hulp soek, belemmer. Humanitêre agentskappe het hulle operasies opgeskerp om meer as 200 000 ontwortelde burgers rondom Goma tot hulp te kom.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.