In 1994 het die regering die beginsel van gewilligekoper-en-verkoper aanvaar, na die model wat die Wêreldbank volg. Die model was die markverwante benadering waar die regering minder van ‘n rol gespeel het om die grond, waarvan 87% aan ‘n wit minderheid behoort het, reg te stel.
Die beleid van gewillige koper en verkoper het al baie teenstand binne en buite die regering gekry, en word beskou as die rede dat slegs 5% van grond wat voorheen in blanke besit was nou aan swart Suid-Afrikaners behoort. Die regering het ‘n teiken gestel dat 30% van die grond teen 2014 aan swartes moet behoort.
In onlangse maande was daar grootskaalse veranderinge in die regering, en volgens politieke kommentators het die neiging na links beweeg. Daar is ook tekens dat die regering se vennote groter invloed het oor beleidsrigting.
‘n Tweedae-ekonomieseberaad van die alliansie, ANC, SAKP en Cosatu, het besluit dat Suid-Afrika weer moet terugkeer na sy posisie as voedseluitvoerland en dat grondhervorming versnel moet word.
Die mees onlangse syfers toon dat uitvoere in die laaste 12 maande tot Maart 2008 R33,7 miljard beloop het, terwyl invoere gestyg het tot R 34 miljard.
“Suid-Afrika het verander van ‘n uitvoerland na een wat voedsel moet invoer. Beleid moet verander word om voedselproduksie te verhoog en te beveilig sodat ons met minder invoere kan klaarkom”, het die alliansie gesê.
Volgens statistieke word die toegang tot voedsel in al die provinsies meer van ‘n bekommernis. In KwaZulu-Natal staar 1,2 miljoen van die provinsie se 10 miljoen mense voedselskaarstes in die gesig, en moet hulle met minder as R200 per maand klaarkom. Dít, terwyl die departement van landbou beweer dat die helfte, 5,3 miljoen mense, in armoede lewe.
‘n Skerp styging in voedselpryse van ongeveer 17,8 % tussen Julie 2007 en Julie 2007 het volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad vlakke van armoede verder verhoog. Die plaaslike geldeenheid wat waarde verloor het, het ook die probleem vererger.
Die ANC het hom daartoe verbind om teen dié agtergrond die twee sake van voedselproduksie te verhoog en grondhervorming te versnel.
Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris generaal en SAKP se nasionale sekretaris, het gesê dat daar programme is waarop daar voortgebou kan word, om beide verandering en kontinuïteit te bevorder.
Heel bo-aan die lys van die regering is die planne om die gewilligekoper-en-verkoperbeginsel te skrap. Mantashe het aangedui dat grondhervorming nie kan plaasvind met dié beginsel nie, en dat onteiening ‘n groter rol sal speel vorentoe.
Die ANC en vennote blameer blanke grondeienaars dat hulle te hoë pryse vir die grond wil hê, en dat hulle op dié manier grondhervorming vertraag.
‘n Onlangse verslag van Edward Lahiff van die ekstreem-linkse Program vir land en grondstudies (PLAAS), het verskeie kere die klagte na vore gesien gekom, maar het gesê daar is baie min bewyse wat dié stelling ondersteun.
PLAAS, wat by die universiteit van die Weskaap gestasioneer is, maak melding in die verslag dat baie grondeienaars polities gekant is teen grondhervorming, en dat hulle nie vertroue het in die sisteem nie, veral die slakkepas waarteen onderhandelinge plaasvind en betalings gemaak word. Hulle verkies om aan ander kopers te verkoop waar dit moontlik is.
Alhoewel die regering se vermoë om grond te koop heelwat versterk is, is dit steeds moeilik om die ander kwessies vooraf te weet, soos wie die grond gaan kry, en die aanpassing van die grond by die beoogde nuwe bewoners.
Die verslag noem dat grondonteiening die grond wat beskikbaar is om uit te deel sal vermeerder, en dat die ontvangers dan 'n beter keuse sal hê oor watter grond hulle die beste sal pas. Dit sal ook die vergoeding wat aan die grondeienaars betaalbaar is, verminder.
Suid-Afrika het ongeveer ‘n derde van die getal gronduitbreidingsbeamptes wat nodig is, en 80% van die huidige personeel is nie voldoende opgelei nie.
Die sukses van die benadering gaan afhang van die leiding wat die beamptes kry ten opsigte van watter kategorieë van grond hulle moet teiken, en die manier waarop hulle hul magte sal uitoefen.
Sake wat wel in die hof kan verskyn as gevolg van verskille oor aanbiedings kan wel die saak vertraag, en kan die prys van die grond heelwat opstoot, wat dit dus onwaarskynlik maak dat onteiening die enigste metode sal wees waarop grond bekom word.
Verskeie studies het getoon dat die staat gefaal het om die ontvangers van grond te ondersteun. Hulle het probleme met toegang tot krediet, opleiding, advies, vervoer en ander dienste, en sukkel ook met toegang tot inset- en produktemarkte.
In November 2005 het die minister van landbou aan die parlement gesê dat 70 % van grondhervormingsprojekte in Limpopo misluk het weens swak ontwerp, negatiewe groepsdinamika en gebrek aan ondersteuning ná die grond oorgeneem is.
PLAAS het bevind dat die betrokke instansies eers reg moet werk voordat hulle die beleid rondom grondhervorming behoort te hersien.
Die Landbank, wat op sy webwerf aanspraak maak daarop dat hulle grondhervorming ondersteun, is betrokke by ‘n multimiljarddollarskandaal.
Drie senior Landbankamptenare is vroeër vanjaar geskors, insluitende die hoofuitvoerendebeampte, Alan Mukoki, nadat drie onafhanklike rekenkundige verslae ongerymdhede uitgewys het.
Die groepe wat na die belange van kommersiële boere omsien, het nie die wanorde wat weens grondhervorming ontstaan het, misgekyk nie.
Chris van Zyl, woordvoerder vir die TLU, het gesê dat ‘n verhoging in voedselproduksie beide infrastruktuur en ervare boere gaan verg. Die toekenning van grond aan voorheen benadeelde mense, wat dalk nie eers daar wil boer nie, gaan net die produksie van voedsel verlaag.
In Suid-Afrika het die kwessie van grondherverdeling reeds verlagings in produksie teweeggebring, en die huidige dramatiese verhogings in insetkoste het die probleem vererger.
“Slegs 13% van ons grond het ‘n hoë landboupotensiaal en ons moet alles in ons vermoë doen om dit te beskerm; die huidige grondhervormingsbeleid plaas net die grond voor onnodige risiko’s,” het van Zyl gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.