Zimbabwe word deur 'n New Yorkse groep ter beskerming van joernalsite as een van die 10 ergste lande geklassifiseer wat betref vyandigheid teenoor die media.
'n Aantal wette is in 2002 deur Mugabe se regering in plek gestel, met vonnisse vir “misdade” soos “om te werk as joernalis sonder akkreditasie van die staatsbeheerde media” en “publikasie van inligting wat die regering dalk kan laat sleg lyk”
MMPZ-koördineerder Andrew Moyse beweer dat die land se media reeds die toneel oorheers met bevooroordeelde en selektiewe mediadekking, selfs in dié belangrike tydperk in die land se geskiedenis. Hiermee verwys hy na die onderhandelinge oor magsdeling tussen Mugabe en Tsvangirai wat nou ‘n dooiepunt bereik het.
Volgens Moyse is dit duidelik dat die land in die Donker Eeue gedompel is en dat die verspreiding van betroubare inligting baie vinnig weer terug beweeg na die mondelinge oordra van nuus, asook die stuur van SMS’e.
Onder Mugabe se roekelose beheer het die land in die laaste 8 jaar verval van een van die mees suksesvolle lande in Afrika tot een waar erge voedseltekorte, ‘n waardelose geldeenheid en hiperinflasie aan die orde van die dag is.
Die staatsbeheerde en staatsgesubsidieerde Herald, die enigste daaglikse koerant se prys het Sondag tot 3000 Zim dollar gestyg vanaf 10 Zim dollar op 1 Augustus, toe die reserwebank 10 nulle van die geldeenheid afgehaal het. Vir daardie prys, 3000 Zim dollar, kon ‘n Zimbabwiër twee brode gekoop het. Een VSA dollar het Sondag teen omtrent 4500 Zim dollar verhandel.
In enige ander land is ‘n koerant een van die goedkoopste daaglikse items, het Moyse gesê, “maar wie gaan ‘n brood prysgee net om die koerant te kan bekostig” het hy gevra.
Die land se onafhanklike koerante, die Zimbabwe Independent, Sunday Standard en die Financial Gazette, wat geen subsidie ontvang nie, se pryse het gestyg na 4500 Zim dollar toe, wat hulle in die “luukse items” klas plaas.
Die regering het die opkoms van enige onafhanklike elektroniese media geblok, terwyl die staatsbeheerde media ‘n genadelose, onophoudelike aanval op die opposisie volhou.
Selfs die staatsbeheerde uitsaaier voel die effekte van die ekonomiese verval. In April het hulle erken dat hulle dekking van die land slegs 45 % is, as gevolg van ou toerusting.
Vroeër vanjaar het die staatsbeheerde media gesê dat hulle 45 miljoen Amerikaanse dollar benodig om toerusting op te gradeer. Die regering het daarna 500 000 Amerikaanse dollar bymekaargekry, wat baie vinnig deur ‘n regeringsamptenaar gesteel is, volgens die staatsmedia.
Moyse sê dat nuus nou baie skaars raak, wat ook al die bron is. Dit is as gevolg van kragonderbrekings wat meer gereeld voorkom en die verspreiding van gedrukte media benadeel.
Slegs die gelukke mense wat hul eie kragopwekkers het en toegang tot brandstof, kry nog nuus op ‘n gereelde basis. Mense in landelike gebiede, met geen toegang tot elektrisiteit nie word heeltemal afgesny van inligting af soos wat goedkoop radio’s minder word en batterye se pryse styg.
Vroeër vanjaar het Ray Kaukonde, ‘n goewerneur van die Mugabe regering in een van die grootste provinsies die probleem vererger deur alle kortgolf radio’s te laat konfiskeer in ‘n poging om mense te keer om na radio-uitsendings van buite die land te luister.
Moyse het opgemerk dat waar kommunikasie onderdruk word, hoorsê en gerugte seëvier. Hy sê dat die owerhede baie kla oor die toedrag van sake, maar dat dit heeltemal deur hulle optrede geskep is.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.