'n Vergadering van die Nasionale Werkskomitee – wat besluite tussen vergaderings van die Nasionale Uitvoerende Komitee neem – het Maandag aan sy einde gekom sonder enige duidelike uitslag.
Die ANC-woordvoerder, Jessie Duarte, het bloot laat val at die bespreking tydens die nasionale uitvoerende komitee se vergadering aanstaande naweek voortgesit sal word.
"Die ANC sal die nodige uitsprake oor die saak lewer sodra die NUK dit bespreek en opgelos het," het Duarte Dinsdag gesê.
Duarte het ook 'n beroep op alle lede gedoen om die ANC se grondwetlike strukture, organisatoriese manier van doen en prosesse te respekteer. "Niemand mag die besprekings van die NUK vooruitloop nie," het sy gesê.
Maar haar pleidooi het op dowe ore geval sover dit die ANC-jeugliga betref het.
Die president van die liga, Julius Malema, het gesê dat die meerderheid NUK-lede saamstem dat Mbeki uit sy pos verwyder moet word
"Ons het die individuele lede van die ANC-NUK genader om seker te maak dat die verwydering van Thabo Mbeki dié naweek 'n ANC-NUK-besluit word, en die meerderheid van hulle stem oor die saak saam," het Malema aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
"Die stryd gaan ons nie verloor nie. Ons wil Mbeki verwyder sien."
"Ons veg nie om te verloor nie… selfs in dié stadium moet mense iets aanval. Hy is op pad uit."
"Dit maak nie saak wie wat sê nie. Mbeki sal nie meer president van dié land wees as ons verkiesing hou nie."
Die ANC-president Jacob Zuma het Sondag geïmpliseer dat die Mbeki-regering 'n "dooie slang" was en dat dit nie nodig was om hom uit sy pos te verwyder nie aangesien daar binnekort 'n verkiesing gaan wees.
Maar volgens Malema het die media Zuma se uitspraak verdraai. "Ek dink nie ons spreek die president teë nie. Hy sal Sondag namens die NUK praat," het Malema gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.