Elke wadrywer het 'n sweep gehad. Die bamboesstok was meer as vier meter lank en die sweep self minstens vyf. Voor aan die punt van die sweep was die voorslag ('n dun wildsbokvelriempie) van minder as 'n meter lank.
Die trekpad het baie gevare en ontberings opgelewer: donderstorms, haelbuie, ysige winternagte, versengende hitte; roofdiere, slange en giftige insekte. Waens wat omval, byvoorbeeld teen 'n steilte of in 'n drif, of selfs wanneer die osse op loop sit daarmee, het groot skade veroorsaak. Die veld was soms so ruig dat die mans met byle 'n pad vir die wa moes oopkap. Verskriklik was dit as sulke ruigtes of die laer aan die brand raak. Op 2 Junie 1839 het daar 'n brand in die laer van Jacobus Potgieter uitgebreek en is die ganse laer in as gelê. Die trekkers het net die klere aan hul lyf oorgehou, sommige nie eers 'n hoed nie. Die groot hoeveelheid kruit op die waens het veroorsaak dat die laer heeltemal uitgebrand het. Vier mans en 'n paar kinders het omgekom.
Twee van die grootste hindernisse op pad was die Oranjerivier en die Drakensberge. Party het die Oranje oorgesteek by Buffelsvlei naby die huidige Aliwal-Noord en ander trekke by Zanddrif. J.H. Hatting vertel dat hulle eers die waens met vlotte oorgeneem het, daarna die vrag en die kleinvee. Die beeste moes maar self deurswem. Uiteindelik is die vroue en kinders oorgeneem. Onder die sing van "Komt! treên wij dan gemoedigd voort" (Gesang 20 vers 9) het hulle die oorkant bereik.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.