Hoewel skole nagenoeg onbekend was, het plaaskinders by rondswerwende "skoolmeesters" leer lees, gewoonlik ontslane matrose en soldate, wat deur hul ouers gehuur is. Die skoolboeke was 'n ABC, dan die vervolg hierop met onderrig aan leerlinge van die tweede "trap", die AB-jab, wat woorde van twee lettergrepe bevat het, asook die spelboek, die Trap der Jeugd. Kinders het net leer lees, skrywe en reken, en het daarby 'n bietjie godsdiensopvoeding ontvang.
Met dié kennis was die mense in staat om die Bybel te lees. Feitlik elke gesin het die massiewe Statenbijbel gehad wat met die grootste sorg opgepas is. Dit is die Bybel wat op las van die Staten-generaal (die Nederlandse volksverteenwoordigers) tussen 1626 en 1635 vertaal en volgens besluit van die sinode van Dordrecht in 1637 uitgegee is. Die meeste het ook die gesange van Willem Sluyter, die Heidelbergse kategismus en die Kortbegrip van Helmbroek gehad. Party families het daarby 'n predikasieboek besit. Die bekendste preekbundel was Den Donderslag der Godlozen (wegens het schrikkelyk oordeel en de pyne der Hellen), in dieselfde band met De hemelsche vreugde voor de gelovige zielen.
In die lewe van die pioniersfamilies het huisgodsdiens 'n belangrike plek ingeneem. Etes is begin en beëindig met 'n tafelgebed, wat die plig was van een van die kinders of 'n besoekende grootouer. Die dag se werk is nie begin voordat daar "boekegevat" is nie — en saans ná aandete het "Die Boek" weer op die tafel verskyn. Die huisgesin het aan tafel bly sit, terwyl slawe of Khoikhoi langs die muur neergehurk het. Nadat die huisvader iets uit die Bybel en miskien 'n preekbundel gelees en 'n gebed gedoen het, het almal saam 'n gesang of psalm gesing, wat hulle meestal van buite geken het. Sondae was daar 'n spesiale godsdiensoefening.
Dikwels het trekboere petisies aan die Goewerneur gerig om 'n kerk te vra. Die enkele kerke is gereeld en pligsgetrou bygewoon, hoewel hulle lank moes reis om daar te kom. Die meerderheid was te ver om elke Sondag te gaan, maar het moeite gedoen om een of meer keer per jaar die Nagmaal by te woon. Dan het die katkisasie van jong mense en aanneming van nuwe lidmate ook plaasgevind. Voordat 'n kind aangeneem is, wou die ouers hulle nie toestemming gee om te trou nie.
Ernstige sosiale euwels soos dronkenskap was op die platteland onbekend. Talle boere was geheelonthouers en dié wat drank gebruik het, het dit matig gedoen. Mense het respek gehad vir mekaar se lewe en eiendom. Skriftelike koopkontrakte was onnodig — 'n man se woord was sy eer. Kinders het eerbied teenoor hul ouers betoon.
Hoe ’n admiraal en ’n prins Afrikaans gered het
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.