praag.co.za

Nederland: gevang tussen domheid en skynheiligheid

Written by

in

Inderdaad is dinge aan die rep en roer in Nederland. Die bekende skrywer Harry Mulisch het sowat ’n jaar gelede gesê as hy jonger was sou hy die hasepad uit Nederland gekies het. Dit is nou iemand wat destyds ’n groot voorstaander was van Castro se Revoluçion. “Sedert die moord op Pim Fortuyn hang daar iets onheilspellends in die lug in Nederland. ’n Sekere onskuld het verlore gegaan”, vertel Mulisch in ’n onderhoud. Baie mense voel ook dat die onskuld in Nederland weg is. Die parlementsverkiesing van afgelope November was ’n belangrike barometer om die volk se stemming te bepaal. Sowel die sosialiste en die regse Partij van de Vrijheid van Geert Wilders het ’n groot wins behaal by die stembusse. ’n Onstabiele kabinet is die gevolg hiervan, en Wilders meen dat daar alreeds ’n cordon sanitaire is rondom sy party. Hy word steeds meer deur die opposisiepartye geïsoleer en kan nouliks ’n sinvolle debat uitlok in die kabinet sonder om ’n slagoffer te word van verdagmakery. So byvoorbeeld het hy homself duidelik uitgespreek teen die feit dat parlementslede (oftewel Kamerlede, soos hulle in Nederland bekend staan), oor geen dubbele nasionaliteit mag beskik nie. ’n Dubbele nasionaliteit lei tot ’n dubbele lojaliteit, en as jy in Nederland in die parlement wil dien moet jou lojaliteit puur vir Nederland wees. Nogal logies, sou ’n mens dink, maar bloot omdat Wilders dit eerste gesê het, is pogings gedoen om dit teen te werk. Dieselfde tendens het ’n mens by Pim Fortuyn bespeur. Iemand in die opposisie wat sin maak, moet stil gemaak word.

Nederland is ’n land met ’n eeue-oue tradisie van toleransie en aanvaarding van vreemdelinge. Portugese, Jode, Italianers, Franse en ander groepe het al ’n spoor getrap in Nederland. Die meeste van hierdie groepe het opgelos in die Nederlandse kultuur en slegs heel selde is daar sprake gewees van ’n hardhandige verwydering van verskillende volke. Nederland het immers slegs twee groot oorloë gehad in sy geskiedenis, te wete die Tagtigjarige Oorlog en die Tweede Wêreldoorlog. Die Nederlandse mentaliteit is nie ingestel om mense te beskerm by groot bedreigings nie. Dit mag miskien verklaar waarom dit so maklik was om so ’n groot persentasie Jode te deporteer tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die anti-apartheid opstande kan ook deels verklaar word deur die naïwiteit van Nederlanders wat nie weet hoe dit voel om in ’n land te woon waar etnisiteit jou oorlewing bepaal soos in Afrika nie.

Vanweë Nederland se sosialistiese ingesteldheid kan ’n mens konkludeer dat daar baie waarde geheg word aan gelykheid tussen mense. Dit word deels bepaal deur die Calvinistiese mentaliteit van Nederlanders wat stel dat daar gelykheid tussen mense moet wees. Ofskoon die meeste mense geen dogmatiese belyders is van Calvyn se leerstellings nie, het hierdie ingesteldheid stewig wortel geskiet in die land se verskeie instellings. Agter die sluier van toleransie teenoor homoseksualiteit, dwelms, prostitusie, etnisiteite en derglike, is daar ’n sterk aanwesige tendens om ander mense of groepe neerbuigend te bejeën, soos dit ’n Calvinis betaam. Daar word af en toe spottend na Nederland verwys as die land van dominees en skoolmeesters, en hierdie mentaliteit het vir genoeg wrewel en haat gesorg by volksgenote.

Naas Harry Mulisch staan die wyle Willem Frederik Hermans en Gerard Reve bekend as die top drie na-oorlogse skrywers. Laasgenoemde twee skrywers kon die kleinburgerlike koekeloer-en skinder-mentaliteit van Nederland nie verdra nie en het hul heil elders gesoek. Hermans, wat homself in Parys gevestig het, het opgemerk dat Nederlanders altyd dink dat hulle die gewete van die wêreld is maar self geen kritiek kan verdra nie. Toe hy in 1986 Amsterdam besoek het om ’n toespraak te lewer, was die vergadering vanweë ’n bomdreigement tydelik ontruim gewees. Linkse aktiviste wou hom afskrik as gevolg van sy ‘hoogs omstrede’ besoek aan Suid-Afrika ’n paar jaar eerder, en kort na hierdie toespraak het die Amsterdamse burgemeester hom op die swartlys geplaas, wat hom verbied het om ooit weer ’n voet in die hoofstad te sit. Toe ek so drie jaar gelede Adriana Stuijt se bewusmakingsveldtog oor Suid-Afrika se plaasmoorde bygewoon het in Amsterdam, was daar ook bedreigings komende vanuit ’n ekstreem-linkse hoek gewees.

Daar is egter ’n blinde vlek in hierdie Calvinistiese gelykheidsideaal. Daar is ’n hele stel onsigbare reëls en waardes wat ’n mens moet internaliseer ten einde ’n ‘echte Hollander’ te wees. Nie alle buitelanders kan hierdie reëls en norme reg lees of verstaan nie. Gelykheid is eintlik eers ter sprake sodra jy ’n ‘echte Hollander’ is. In feite kan slegs ’n klein groepie nie-Westerse (allochtone) inwoners hulself volledig inburger in hierdie waardestelsel, en in baie gevalle gaan dit gepaard met ’n afswering van hul kultuur wat hulle van huis uit gekry het. Dit is vanselfsprekend dat die meeste allochtone nie hul afkoms wil verloën nie, en bevind hulself dikwels in ’n posisie waarin hulle met rolkonflikte te make het. Wanaanpassing, lae selfbeelde, haat en nyd is die gevolg hiervan. Vanuit die owerheid word veronderstel dat deur meer integrasie op hierdie mense af te dwing ’n einde gemaak kan word aan hierdie probleem. Soos N.P. van Wyk Louw in Liberale Nasionalisme gestel het, het die groter volke ook ’n swakheid, naamlik hulle besef nie altyd dat hulle verdrukkers van kleiner groepe is nie. Nie almal het die krag of ingesteldheid om ’n ‘echte Hollander’ te wees nie.

Dit is moeilik, selfs vir my met ’n Afrikaner-Calvinistiese agtergrond, om die volledige las van Nederlanderskap op my te neem. ’n Kultuur soos dié van die hedendaagse Nederland is in sy kern nihilisties. Ek kan absoluut geen regverdiging vind in burgemeester Job Cohen van Amsterdam se goedkeuring dat ‘gay’ kinders so jonk soos elf jaar met die volgende Gay Parade mee mag vaar op vlotte deur die Amsterdamse gragte nie. As ’n mens kinders begin blootstel aan pederastie, wat bly oor van jou trots, jou waardigheid of jou lojaliteit teenoor jou medeburgers? Hierdie daad lig egter geen wenkbrou by die plaaslike Nederlanders nie. Nederland staan hiermee op die vooraand van ’n tweede seksuele rewolusie en sien nie die alarmligte flikker nie. Die Franse skrywer Michel Houellebecq het ons ’n belangrike les geleer in sy roman Moontlikheid van ’n eiland, waarin hy vertel van ’n skerpsinnige verhoogkomediant wat homself volledig gestort het in die wêreld van seksuele losbandigheid, en uiteindelik tot selfmoord gedryf was deur die leegte wat hom begin vul het soos wat hy ouer geword het.

Met hierdie vervaging van norme, die ophemeling van seksuele losbandigheid wat al hoe meer herinner aan die Markies de Sade se skrywes en tegelykertyd die neerbuigendheid wat allochtone ervaar om ‘meer soos ons’ te word is belangrike redes hoekom spanninge ’n etniese karakter begin kry. Dis myns insiens nie soseer ’n gevoel van bedreiging wat hierdie konflikte aandryf nie – alhoewel dit beslis ’n rol speel – maar ’n gevoel van weersin in die leegte wat die Nederlandse kultuur skep. Die psigiater Theodore Dalrymple het gestel dat ledigheid in hierdie geval beslis die duiwel se oorkussing is.

Noudat die ekonomie weer begin beweeg in Nederland is die verskillende staatsinstellings ywerig besig om mense terug te bring in die werksfeer deur dit moeiliker te maak om jou uitkering te behou. Bedrywe is egter nog te geslote en kieskeurig vir baie mense, waardeur weereens ’n dubbele verwagting ontstaan by veral allochtone. Bedrywe wil enersyds meer integrasie sien as jy ’n beter werk wil hê, en andersyds probeer die uitkeringsinstansies die indruk te skep dat as jy nie werk soek nie jy lui is. Daar is envoudigweg nie genoeg plek vir almal in die werksfeer nie. Vanweë die hoë eise wat bedrywe stel kom baie allochtone nie aan bod nie, maar as hulle nie probeer nie, kry hulle met die hoë eise van die uitkeringsinstansies te make. Dit hou die siklus van weersin en ongeloofwaardigheid jeens die Nederlandse staat in stand.

Waar dit op neerkom is dat Nederland ’n hele paar dekades agter loop met Suid-Afrika as dit kom by rasse en etniese kwessies. Hertzog het tagtig jaar gelede al antwoorde gehad op vrae wat Nederland nog moet begin stel. Hoewel, die plaaslike owerheid van Rotterdam het sedert ’n jaar of drie ’n soort groepsgebiedewet ingevoer wat mense met ’n lae inkomste of slegte taalbeheersing buite die stad moet hou. Dit is ironies hoe die bekende Kaaskop gemakstoelsosialis Marcel van Dam homself woedend en skuimend om die mond teen apartheid uitgespreek het, maar self betrokke was by die ontruiming van die Bijlmer, ’n Amsterdamse gettowyk, om die inwoners in omliggende dorpe en stede te huisves, soortgelyk aan die ontruiming van Sophiatown destyds. Waar Sophiatown later omgeskep was in ’n woonbuurt om arm blankes in die stad te huisves sodat hulle nader aan hul werk kan wees, word nou gepoog om die Bijlmer om te bou in ’n luukse woonbuurt vir sakemense. Die arrogansie en skynheiligheid in hierdie daad skrei ten hemele.

Vanweë die verstikkende reëls, die plaas-alles-in-hokkies mentaliteit, meriete-gebaseerde diskriminasie op die werkvloer en derglike is Nederland by uitstek ’n land wat in die wieg gelê is vir apartheid; ’n segregasie tussen geïntegreerd en nie-geïntegreerd ontstaan op hierdie manier. W.F. Hermans was bloot logies gewees toe hy in 1983 gesê het dat die haat wat Nederland teen die Afrikaner koester slegs gevoed word deur die haat wat Nederland vir sy eie skrywers en kultuur het.

’n Mens wonder hoeveel etnies-gebaseerde opstande hier nodig sal wees voordat die politici en burgers hul domheid en skynheiligheid van hul integrasiebeleid gaan begin insien.

ds dentalДанильченко Юрий Брониславович

Comments

Leave a Reply