“Toe die ambassadeur nie sodanige versekering ontvang het nie, het hy die vergadering verlaat en geweier om deel te hê aan die regering se poging om gewelddadige optrede te regverdig,” gaan McCormack voort.
“Die Verenigde State sal aanhou om hom uit te spreek en doelgerig op te tree ter ondersteuning van die mense van Zimbabwe se reg op demokrasie,” het hy gesê.
Die Verenigde State en ander Westerse regerings het die reeks aanvalle op die leiers van die opposisie teen president Robert Mugabe se bewind van 27 jaar gekritiseer. In die mees onlangse insident is ’n senior lid van die opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), Nelson Chamisa, erg geslaan toe hy die land probeer verlaat het.
“Dis net nog ’n treurige voorbeeld van die negatiewer wending in Zimbabwe waar dit al roetine geword het vir Mugabe se regering om demokratiese beginsels te vertrap,” het McCormack vroeër in reaksie op die aanval op Chamisa gesê.
Teenkanting teen die 83-jarige Mugabe, wat aan die mag is sedert onafhanklikheid in 1980, het toegeneem te midde van ’n ekonomiese ineenstorting met inflasie op 1 730 persent en vier uit vyf mense sonder werk.
Mugabe bly egter ongestoor in die aangesig van hewige kritiek en blameer die onrus op die MDC en sy kritici.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.