Met die mag en invloed van die Persiese Ryk op ’n hoogtepunt in 480 v.C., neem die Keiser Xerxes sy magte en vloot op ’n ekspedisie om die Grieke te verower. Die ekspedisie is uiteindelik rampspoedig en is die eerste teken dat ’n magtige Empaaier krake kan wys nog lank voor sy onvermydelike ondergang. Die hubris van Xerxes en die Perse ken egter geen perke nie en Xerxes se opmars oor Klein Asië tot in Griekeland begin met ’n selfversekerde mag wat eers deur die Grieke gestuit en toe verslaan word. Eeue later komponeer Händel die Opera Xerxes oor die gebeure en dit word deur sommige kritici as ’n studie in hubris beskou.
Met die onlangse vrystelling van die film “300” deur Hollywood (direkteur Zack Snyder, en gebaseer op die boek “300” deur Frank Miller) word aspekte van die Persiese Ryk weereens in die Westerse kuns ondersoek. Die film vertel die verhaal van die Slag van Thermopylae, wat in die jaar 480 v.C. plaasvind. Xerxes se magtige leër (met tienduisende soldate) kom teen net 300 Spartane te staan, wat vir drie dae hardnekkig teenstand bied. Die Spartane se poging gee hulle bondgenote (Athene) tyd om hulle vloot voor te berei en Xerxes se vloot oortuigend in die Slag van Salamis af te ransel. Xerxes is hierna verplig om die aftog te blaas.
Spesiale effekte wat gebruik word om atletiese soldate in brutale weergawes van oorlogsgeweld uit te beeld is tipies van die moderne Hollywood-genre. Nietemin word die historiese gebeure onderliggend aan die poging taamlik akkuraat weergegee. Die Spartane, wat as ’n minderheid teen ’n oorweldigende meerderheid veg, herinner aan Gideon en sy vegters in die Bybel wat net soos die Spartane onsterflike roem verwerf deur met min vegters ’n meerderheid aan te val en te verslaan. Die psigologiese verromantisering van Sparta se helde resoneer met ’n Westerse kultuur wat eeue reeds die enkele held (vanaf Achilles en Hektor tot by Superman en Batman) vereer en onthou. Die Westerse held wat in hopelose omstandighede veg, soms sterf, maar uiteindelik seëvier, is grondliggend aan die Westerse psige, al is hy deesdae eerder ’n popster as ’n vegter in ons kammawêreld. Om dié rede sal “300” waarkynlik ’n suksesvolle film wees.
Die vrystelling van die film veroorsaak ook internasionale politieke golwe in die huidige klimaat weens die onderliggende politieke boodskap wat dit skynbaar oordra. “300” word sterk deur die Iranese President Mahmoud Ahmadinejad veroordeel. Die Iraniërs, wat hulleself steeds as Perse beskou, sien die film as ’n bedekte dreigement vanuit die VSA wat steeds dreig met militêre aksie om Iran te verhoed om ’n kernwapen te bou. Terwyl mens Ahmadinejad se dreigemente en uitsprake as die hallusinasies van ’n malmens wil veroordeel, is selfs ’n malmens soms korrek. Daar is inderdaad ’n sterk argument, wat onder andere in Israel uitgemaak word en wat insgelyks in Washington geopper word, dat Iran met alle mag verhoed moet word om ’n kernwapen te bou. En die enigste manier om dit te voorkom, is in elk geval militêre optrede. Terwyl die Israeli’s sterk argumente opbou en selfs eensydig mag optree, is daar ook in die VSA ’n besef dat daar uiteindelik geen ander uitweg as ’n militêre inval mag wees nie.
Daar is egter verskeie ironiese onderstrome in die heen-en-weer-argumente tussen Iran, Hollywood en die Westerse magte. Daar is dalk selfs ’n analogie met gebeure in die antieke Persiese Ryk. Die Slag van Thermopylae het op die rand van die Empaaier plaasgevind op presies die stadium dat die Perse die wêreld se enigste supermoontheid was. Die vernietiging van Xerxes se vloot het ook die begin van die einde van die Persiese Ryk beteken. Terwyl die Perse steeds vir honderde jare hulle omgewing sou oorheers, het hulle nooit oor die Grieke geheers nie. Die lesse by Thermopylae en Salamis het bewys dat die Perse nie onoorwinlik is nie en die psigologiese terugslag sou later uiting kry in die verlies van vitaliteit en selfversekerdheid onder die Perse. Die begin van die einde van ’n oorheersende empaaier sien mens ook dikwels in terugslae in die gebiede aan die rand van die empaaier; vir die Perse was dit in Griekeland, vir die Romeine was die eerste tekens die militêre rampe teen (ironies genoeg) Persiese groepe en later teen die Germane by Hadianopolis (in Klein Asië).
Die Amerikaanse Empaaier (of eerder Angel-Saksiese of Westerse Empaaier) oorheers die wêreld reeds vir 200 jaar. Die vermoëns van dié Empaaier moet nie onderskat word nie. Dit strek oor twee kontinente (Australië en Noord-Amerika) met belangrike ander bates (Brittanje, Nieu-Seeland, Israel, en ander vasalstate) en met sy sentrum in Washington gesetel. Die Empaaier het belangrike krisisse reeds oorleef, wat twee Wêreldoorloë insluit. Dit oorheers die wêreld ekonomies en kultureel en gee die politieke toon internasionaal aan. Met ander woorde, dit verteenwoordig die moderne analogie van die Persiese Ryk.
En soos die Perse het die Amerikaanse Empaaier begin om oorloë op die randgebied van sy invloedsfeer te verloor. Die eerste was die oorlog in Viëtnam, wat histories gesien verrassend was – dapper Viëtnamese vegters het die goed opgeleide en goed bewapende Amerikaanse soldaat nie fisies nie, maar psigologies met sy Spartaanse veglus verslaan. Viëtnam het die VSA se selfvertroue tot in sy fondamente geskud en het plaasgevind op die stadium dat die VSA en sy bondgenote ekonomies en militêr miskien op ’n hoogtepunt was.
Viëtnam illustreer ook aan die Weste se vyande dat die kolos verslaan kan word en binne twee dekades maak Osama bin Laden planne om ’n nuwe oorlog teen die Weste te begin. Sy berekening is eenvoudig: die Weste, reken Bin Laden, is kultureel uitgeput en kan nie ’n lang oorlog veg nie. En hierin blyk dit dat hy dalk korrek mag wees. Bin Laden se oorlog gaan in dekades of miskien selfs in eeue gemeet word en gaan langer as Bin Laden self duur. Dit gaan die Weste nog intens beproef.
Osama bin Laden se historiese aanval op 11 September 2001 het die Amerikaners in ’n oorlog op die rand van hulle invloedsfeer in Irak gedompel. Amerikaners, wat steeds deur Vietnam onsenu is, is halfhartig in die oorlog en in Washington is geduld besig om op te raak. Dit vertaal in die onttrekking van Amerikaanse magte binne die volgende jaar of twee en die de facto-oorwinning vir Islamitiese vegters in Irak. Dit gaan nog ’n illustrasie bied dat die getergte olifant uitgeput en ontsenu is, en dat bin Laden se ontleding in die kol is.
Dit alles bring mens terug by Hollywood se fliek “300”, ook by Ahmadinejad en sy poging om ’n kernwapen te verkry en by die Westerse Empaaier wat skynbaar nog nie verstaan (en dalk nooit sal verstaan) dat voortbestaan op die langer duur nie vanselfsprekend is nie. Baie elemente in die Weste glo steeds nie, ten spyte van die aanvalle in 2001 en later, en in weerwil van die oorlog in Irak, dat hulle wel vyande het nie. Daarom wonder mens of Ahmadinejad se aantygings dat “300” ’n bedekte dreigement is dalk nie so misplaas is nie. Miskien is “300” eerder ’n boodskap aan die Weste, waar sommige elemente net soos Xerxes glo dat die Empaaier nooit sal ondergaan nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.