As paghouer van geskiedenis is die Voortrekkermonument byderwets die eerste monument in die land wat met slimfoontegnologie die belang van die Monument en ’n verduideliking van die tonele op die friese kan gee.
“Die tegnologie behels ’n QR-kode wat via die monument se Wi-fi op slimfone die besoeker toegang gee tot wetenswaardighede omtrent die monument en brokkies geskiedenis wat gekoppel is aan die tonele uitgebeeld op die friese,” het Sonja Lombard, besturende direkteur van die Voortrekkermonument gesê.
“Met behulp van die tegnologie het jy nie ’n toergids nodig nie. Die Wi-fi is gratis beskikbaar vir besoekers.”
Die nuwe tegnologie en ’n DVD met die naam ‘Vryheid’ wat die vryheidsideaal van die Voortrekkers verduidelik, is onder blyke van groot belangstelling tydens ’n kultuuraand bekendgestel.
Die DVD is tans in Afrikaans en Engels beskikbaar, maar sal later ook in Chinees, Duits, Spaans, Italiaans en in Portugees beskikbaar wees.
Die bekendstelling is voorafgegaan met sangnommers uit die FAK, ’n volkspele-vertoning deur die Erika volkspelelaer, die bekendstelling van eg eie Suid-Afrikaanse mampoerlikeurs en ’n boekvoorlesing uit Louis Trichardt se dagboek.


Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.