praag.co.za

ʼn Satiriese blik op Afrikanerselfbeskikking

Written by

in

,

stand outdeur Johan Wiggill

Eerstens is selfbeskikking ʼn beginsel wat twyfelagtig onderskryf word deur die VN en mens vind dit selfs ingebou in sekere konstitusies. Die Internasionale Geregshof het te midde van vele uitsprake die beginsel ook onderskryf en die inkonsekwentheid daarvan laat die deur wyd oop vir interpretasies soos dit die volk pas. Tweedens kom selfbeskikking nie vanself nie. Dit verg volkswil en opoffering. Daar is reëls vir selfbeskikking soos omskryf in internasionale deklarasies en binne die raamwerk van die volke en internasionale reg. Reëls, regulasies en konstitusies bind en inhibeer selfbeskikking, al wat tel, en daar is reëls nie van toepassing nie, is die volk se wil om onafhanklik te wees.

Selfbeskikking is nie ʼn nuwe konsep nie. Dit is net ʼn “klein” konsep in Suid Afrika. Die stryd vir Afrikaner selfbeskikking strek oor etlike jare. Met spesifieke verwysing toe die Afrikaner toekoms deur enkele visionêres as suspisieus beskou was na die 1977 konstitusionele voorstelle wat die eerste na-oorlogse tekens van Afrikaner erodering begin wys het. Daar kan met oortuiging aangeneem word dat die stryd vir selfbeskikking in felheid toegeneem het en onder andere gelei het politieke afskeiding soos die KP in die jare tagtig en selfs op kerkgebied met stigting van die APK.

Die laaste 10 jaar met toename in elektroniese kommunikasie en sosiale webwerwe het die stryd ʼn “hoogtepunt” bereik. Dit is egter ironies hoe die beriggewing, artikels en kommentare steeds dieselfde is die afgelope 10 jaar. Party blameer die Jode, die liberalisme, ander die NGK, party die DA wat Boere stemme steel en wat ook al nog. Dit terwyl die Afrikaner slegs as volk moes en steeds kan, mobiliseer en verenig as beweging. Dit gaan immers nie net oor Boere-belange nie maar oor wit belange in Suid Afrika.

Komitee op komitee word gestig en daar word gepraat oor hoe die Afrikanerselfbeskikking kan kry. Van kantons tot die voormalige Boere-republieke word as opsies gestel. Sommige komitees is selfs strategies van aard, maar van ʼn plan is daar min te sien. Daar was ʼn Volksverkiesing om die Afrikanersaak beduidend te stel maar o wee, ʼn klein persentasie van die Afrikaners en Boere stem om die steun en bedinging beduidend te maak. Ander wend hulle tot ʼn regsproses wat so onsamehangend soos die Afrikaner politiek is.

Afrikaner-oë is op Kleinfontein en Orania om die pas aan te gee maar daar is ook min vordering. Die volkswil ontbreek. Afrikaners, die Boerevolk en wittes stem vir die DA. Want die DA verseker goeie dienslewering en goeie bestuur. Dit terwyl die DA op beleidsgronde kwalik onderskei kan word van die ANC. Oudstryders veg verbete voort. Die praat-oorlog ondersteun deur die geskiedenis van die Afrikaner as hoër volk en die strewe vir onafhanklikheid sleep voort. Een of ander Volksparty bespreek selfbeskikking met die SAMRK, maar het nagelaat om grense te trek vir die Afrikanergebied. Solank die beginsel bespreek word, is alles in orde. Dan is die saak gewonne. Grappig om die minste te sê.

Dan is daar die “religieuse” aanslag. Die uitverkore Afrikaner volk sal weer onafhanklik word. Soos iemand elders opgemerk het diegene is so “heavenly minded they are of no earthly use” Daar is ook die wat ʼn kulturele aanslag promoveer wat deur taal en kunste onafhanklikheid sal verkry. Net skietgoed vir Afrikaanses om die Volk verder te erodeer.

Min het verander die afgelope drie dekades. Die argiewe wys dat meningvormers telkens skryf die tyd is nou ryp vir Afrikanervryheid met breedvoerige argumente en planne. Historiese gebeurtenisse word telkens aangehaal om die rypheid van Afrikaner vryheid te demonstreer. Sal dalk beter wees as al die skrywers besef daar is meer glas in die voorruit as die truspieëltjie.

Dit is eenvoudig om onafhanklikheid te verkry. Mobiliseer die Afrikaners en meegaande ondersteuners tot ʼn vryheidsbeweging. Voertuie vir die doel bestaan reeds. Trek eerstens grense. Die res volg vanself. Dit gaan vanselfsprekend gepaard met opoffering. Gaan die opoffering veel meer verg as die huidige oorlewingstryd?

Comments

5 responses to “ʼn Satiriese blik op Afrikanerselfbeskikking”

  1. zighlight Avatar
    zighlight

    Dis baie goed geskryf Johan. Ek het al gewonder oor al die groepe en komitees wat gestig word. Ek probeer die meeste van hulle ondersteun, tot en met hulle mekaar begin aanval!

    Wat jy sê is reg: “Mobiliseer die Afrikaners”. Dit is ook wat baie van die groepe en komitees voorskryf. Wat ek wel wens is dat hierdie groepe hul erge hardkoppigheid partykeer wil laat staan en regtig saam werk.

    Elke groep, komitee of raad verkonig altyd dieselfde versies: “Ons as Boere / Afrikaners moet ons klein verskille eenkant sit en nou saam werk vir selfbeskikking”. Nou alhoewel ek met die stelling saam stem, kry mens die indruk dat daardie sin nooit regtig voltooi word nie en dan kom die hardkoppigheid weer deur. Indien mens die sin sou eerlik voltooi sal dit eerder klink soos volg: “Ons moet ons klein verskille eenkant sit, saam werk en MY plan volg, want die ander se plan is verkeerd”

    1. Riempies Avatar
      Riempies

      Zighlight – wat my op n manier amuseer as mens na
      die argument oor die verskille luister – want dit is Afrikaner-politieke
      verskille – so asof die mense nie besef dat dit inderwaarheid oorlewing van die
      Afrikanervolk is wat op die spel is nie – wat tans ons priotiteit behoort te
      wees – later kan ons weer lekker oor ons politiek verskil en vuisslaan soos in
      die goeie ou dae van die Sappe en Natte.

    2. Matt Heyns Avatar
      Matt Heyns

      Die grondwet vereis ‘n handves van selfbeskikkingsregte of kultuurregte en ‘n konsepwet oor selfbeskikking. Kyk gerus artikel 235. Die tesis: selfbeskikking vir taal en kultuur gemeenskappe, in terme van artikel 185 en die kommissie wet, het baie in gemeen met regte van tradisionele gemeenskappe. Kyk artikels 211 2n 212 asook die wet op tradisionele gemeenskappe. Ons maak dus aanspraak op dieselfde regte as tradisionele gemeenskappe. Lw : As dr Dan Roodt leier word sal hy deur die staat besoldig word!

      1. Riempies Avatar
        Riempies

        Nee wat ons Afrikaner is nie aasvoels nie – ons sal sommer ons eie leiers self betaal. Ons is ook nie afhanklik van ander groepe om ons status te bevestig nie – ons is reeds n volk in eie reg wat deur die hele wereld erken word.

  2. Arnieann Avatar
    Arnieann

    Jou laaste sin sê alles.
    Dit ìs maklik en eenvoudig om selfbeskikking te kry.
    Orania het dit reeds gedoen, en gaan van krag tot krag, en nog nie ‘n enkele poging was al gebruik om dit te stop nie. En hoe meervan ons dit ook doen, hoe moeiliker gaan dit wees om ons te keer.
    Jy doen dit net eenvoudig en kyk dan wie jou daardie reg ontsê, en deel daarmee.
    Op geen manier kan ‘n paar honderd, of selfs duisende mense in die tronk gevoeter word omdat hulle ‘n wettige reg uitvoer nie.
    Verklaar die Noord Kaap as Afrikaner gebied, en gaan voort om dit te ontwikkel.
    Hoe, en deur wie gaan dit ongedaan gemaak word.???

Leave a Reply