Suid-Afrika is intussen besig om ‘n omvattende voorstel vir handel in renosterhoring voor te berei vir oorweging by die Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde Spesies, CITES.
Dit sal gereed wees vir die organisasie se volgende byeenkoms wat oor drie jaar in Suid-Afrika gehou word.
Die minister van omgewingsake – Edna Molewa – sê die land is as ‘n lid van CITES daartoe verbind om sy rol as ‘n leier op die gebied van omgewingsbewaring uit te bou. Sy het op ‘n nuuskonferensie in Pretoria gesê dat Suid-Afrika ook sy deel moet doen in besluitnemingsprosesse deur ander CITES-lede oor die wettige handel in renosterhoring te beïnvloed.
Die opstel van ‘n voorlegging vir CITES se volgende beraad is reeds deur die regering goedgekeur.
Drie vermeende renosterstropers wat intussen die naweek in die noorde van KwaZulu-Natal vasgetrek is, het erken dat hulle ‘n renoster in die iSmangaliso vleilandpark doodgemaak het.
Hulle is blykbaar op heterdaad betrap met wapens en renosterhoring in hulle besit. Die renoster wat gestroop is was moontlik dragtig.
Twee van die mans is van Suid-Afrika en die derde is ‘n Mosambiekse burger.
Een-en-veertig renosters is sover vanjaar in KwaZulu-Natal gestroop, en 450 landwyd.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.