Die hoofregter van die konsitusionele hof in Egipte, Adli Mansour word vandag as tussentydse leier van dié land ingesweer, nadat die eerste demokratiese-verkose president Mohammed Morsi gister deur die weermag uit die kussings gelig is.
Morsi se Moslem Broederskap- party meen dié stap was ‘n militêre staatsgreep.
Morsi en verskeie van sy assistente word deur militêre intelligensie in Kairo aangehou, terwyl 40 senior leiers van die Moslem Broederskap verbied is om die land te verlaat.
Die hoof van die weermag het gisteraand aangekondig dat Morsi se regering omver gewerp is en dat die grondwet opgeskort is. Die tussentydse regering sal in beheer van die land wees tot vervroegde verkiesings gehou word.
Die Moslem Broederskap in Egipte sê die afgesette president Mohammed Morsi word by ‘n militêre basis aangehou.
Die weermaghoof het tydens ‘n regstreekse televisieuitsending gesê ‘n tussentydse regering sal aangewys word wat die weg sal baan vir presidensiële en parlementêre verkiesings.
Intussen het die verskeie Westerse leiers kommer uitgespreek oor die ontsetting van Egipte se eerste demokraties-verkose president en die hoop uitgespreek dat Egipte se demokrasie spoedig herstel kan word.
Die Amerikaanse president, Barack Obama het in reaksie op die jongste verwikkelings gesê hy hoop die land kan gou terugkeer na ‘n verkose burgerlike regering.
Die EU het die bloedvergieting betreur wat met die onlangse betogings gepaard gegaan het.
Minstens 50 mense is in die geweld dood. Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal Ban Ki Moon het ook sy kommer uitgespreek oor die weermag se ingryping in die land.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.