
Volg Manfred Delport op Twitter en Facebook.
Ek moet bieg dat ek my verlekker aan die petalje rondom die Mandela-gespuis se twis oor die Mandelakinders se grafte. Ek het al die gesegde gehoor dat dooies sou tol in hulle grafte, maar ek het nog nooit gedink ek sou ‘n geval sien waar dit letterlik waar sou word nie, waar dooies se beendere meer kilometers reis as jou gemiddelde Sandton-pendelaar op ‘n daaglikse basis nie. Daar is niks soos die ongenaakbare en koue lig van “rassistiese” nuusdekking, om die spul te ontbloot vir die ploerte wat hulle eintlik is nie.
Die vermaaklike spektakel van die Mandela-gespuis tersyde, begrafnisse en die dooies of dan voorvaders speel duidelik ‘n belangrike rol in Afrikane se bestaan, en ek meen dat ons as Westerlinge dikwels nie begryp presies hóé belangrik daardie rol is nie.
Mens word byvoorbeeld oorval deur laatnag-advertensies op SABC-TV en eTV wat begrafnispolisse bemark. ‘n Begrafnis in ‘n Afrika-gemeenskap is ‘n makietie van format, al krepeer die naasbestaandes van die oorledenes. ‘n Horde familie kom kuier sommer vir ‘n week, slag beeste in voorstedelike agterplase, drink dat die bloed loop, raas en jil dat dit ‘n naarheid is en spandeer tiene duisende aan kiste, wat die agtergelatenes kwalik kan bekostig. Word hierdie uitspattigheid uit vrees gebore dat, sou die begrafnis nie na wense wees nie, die voorvaders kan sorg vir teëspoed in die toekoms?
Dit is eweneens interessant dat, alhoewel 80% en meer van die totale Suid-Afrikaanse bevolking kwansuis Christene is, sinkretistiese voorvaderaanbidding steeds aan die orde van die dag is. Selfs die volkome kommunis en selferkende ateïs, Mandela, moet glo eers die voorvaders se toestemming vra, alvorens hy die tydelike met die ewige verwissel. (Sou sy voorvaders Marx, Engels, Lenin en Stalin ook insluit?)
Jy versteur die voorvaders op eie risiko. Daar is onlangs ‘n winkelsentrum in Bosbokrand opgerig, en tydens die uitgrawing van die fondasies, is daar beendere gevind. Die plaaslike gemeenskap het toe woedend geraak, en eis toe tien persent van die totale waarde van die winkelsentrum, wat in die honderde miljoene beloop, as vergoeding vir die versteuring van die voorvaders.
Die kultuur van die verlede vind mens ook onder die lewendes. Westerlinge hang toenemend ‘n jeugkultuur aan. Filmsterre van ouer as 30 is ou nuus. Beide Brittanje en die VSA se huidige leiers is onder 50. In die 1980’s het ons die jappie-kultus ons eie gemaak. In die Afrikaan se kultuur is dit egter die ringkoppe wat juis agv hul ouderdom die gesagsfigure is. Weer eens kyk die Afrikaan terugwaarts, en nie vorentoe nie.
Die punt waarby ek met bostaande wil uitkom, is dat Westerlinge en Afrikane se lewensuitkyke radikaal verskil. ‘n Tipiese Westerse Christen beskou die aardse lewe as bloot tydelik, en is toekomsgerig – ons kyk vorentoe na die res van ons lewens, en uiteindelik na die ewige lewe in die hiernamaals. ‘n Afrikaan, daarenteen, kyk terugwaarts, na die geskiedenis en die dooies. Die voorvaders moet geraadpleeg word oor belangrike besluite. Selfs Afrikane wat sinkretisme vermeng met elemente van die Christenskap aanhang, maak so.
Dit is moontlik dat hierdie kultuur ontwikkel het omdat Afrikane, in die afwesigheid van die ongenaakbare seisoene in die noordelike halfrond, nie nodig gehad het om vir die toekoms te beplan nie. In tropiese streke is daar heeljaar kos, maar in die koue Europese en Asiese winters, kan ‘n gebrek aan toekomsbeplanning noodlottig wees. Toekomsbeplanning is vir ‘n Europeër ‘n lewensbelangrike vaardigheid, maar vir ‘n Afrikaan, glad nie.
Dit is sekerlik moontlik dat hierdie verskille ook op ander gebiede na voorskyn kom.
Ons almal kry byvoorbeeld daagliks te make met die miljoene slaggate op ons paaie, riool in riviere, kragonderbrekings en algemene verval. Vir die ANC-regering is instandhouding duidelik nie ‘n groot prioriteit nie. Die Zoeloe-woord vir instandhouding is “ondla.” Laasgenoemde beteken egter nie wat jy as ‘n Westerling as die term vir instandhouding sou verstaan nie. “Ondla” is nader verwant aan “grootmaak”, en ook om gewasse soos mielies te plant en om te sien na jou oes. Daar is klaarkblyklik geen begrip soos ons Westerse konsep van instandhouding in Zoeloe nie.
Koppel hieraan die Afrikaan se kultuur van terugkykery na die verlede, en waarom is ons dan verbaas as jy telkens bande moet koop agv slaggate? Die toekoms het nog nie gebeur nie, maar die verlede wel, en laasgenoemde is vir die Afrikaan belangriker.
Op politieke gebied verstaan die ANC hierdie kultuur baie goed, maar die DA glad nie. Dit help nie vir die DA om vir die Afrikaan-kieser ‘n beter toekoms voor te hou nie, want die verlede is vir die Afrikaan belangriker as die toekoms. Die ANC verstaan dat jy die kieser ‘n beter verlede moet aanbied, dat jy die prentjie in sy kop moet plant dat die voorvaders nie daarvan sal hou as hy vir ‘n ander party buiten die ANC sou stem nie.
Miskien sou dit goed wees om bostaande in gedagte te hou, wanneer ons volgende keer sug wanneer apartheid vir die soveelste keer verkwalik word vir 2013 se mislukkings. Dit help dikwels nie om vir ‘n Afrikaan te sê hy moet aanbeweeg en op die toekoms fokus nie. Dis eenvoudig nie sy kultuur nie.
Volg Manfred Delport op Twitter en Facebook.
Lees ook sy vorige rubrieke:
‘Rassisme’: Suid-Afrika se grootste industrie
Die Afrikaner-volksmoordontkenners
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.