praag.co.za

Jonathan Jansen wens Mandela moet sterf

Written by

in

“Ek wens Madiba sterf nou.” Blykbaar het prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), genoeg gehad van die swart leier.

“Wens julle nie ook hy wil nou doodgaan nie?” het Jansen gesê. Hy het sowat 250 leerlinge by ‘n leiersberaad op die kampus toegespreek, het Volksblad berig.

Sy gehoor het glo geskok na hom gestaar. Jansen se oproep dat Mandela die tydelike met die ewige moet verwissel, was blykbaar nie weens enige ideologiese verskille wat Jansen koester nie, maar bloot ‘n skerp aanval op ouderdom. Hy was later nie vir kommentaar beskikbaar nie.

“Elke keer hoor ons hy is in die hospitaal en almal dink hy gaan dié keer sterf. ‘Big’ Mac (Mac Maharaj, die presidensiële woordvoerder) lieg as hy sê Madiba gaan vir roetine-ondersoeke.

“As jy 94 is, gaan jy hospitaal toe om dood te gaan; nie vir roetinetoetse nie,” het Jansen gesê.

Jansen het weereens verdere bewys gelewer van waarom hy nie by ‘n opvoedkundige instelling hoort nie. Hy het ook uitgevaar teen Qamran Tabo, studente-joernalis aan die Universiteit van Kaapstad (UK), wat ‘n meningspeiling oor die aantreklikste ras gedoen het.

“Wat de fok het die student gedink? Oh, my God! As sy een van mý studente was, het sy baie groot moeilikheid gehad.”

Hy het ook gesê hy verstaan nie waarom het die UK-bestuur verskoning gemaak nie.

“Hoekom verskoning vra omdat swart studente gesê het wit studente is aantrekliker?”

Jansen het die algehele gebrek aan leierskap in Suid-Afrika gekritiseer. “In die Katolieke Kerk word honderde seuns elke week gemolesteer deur priesters; daar is ‘n tekort aan leierskap in die kerk.”

Volgens die rektor is die slagting by Marikana en in die Sentraal-Afrikaanse Republiek die skuld van politici.

Al meer boodskappe van ondersteuning vir oudpres. Nelson Mandela was teen Sondag by sy huis in Houghton te sien.

Meer klippe met boodskappe van ondersteuning is voor die huis gepak waar Mandela aansterk ná hy uit ‘n hospitaal in Pretoria ontslaan is. Al die boodskappe was in Engels.

“As dit van ons afgehang het, sou ons jou vir altyd wou hou,” het ene Mally Mokoena geskryf.

“Jy is ons inspirasie,” het ‘n boodskap op ‘n ander klip gelui.

Mandela is Saterdag ontslaan ná hy nege dae behandel is vir ‘n longinfeksie.

‘n Wag op die straathoek het sake dopgehou terwyl joernaliste, kameramanne en fotograwe in die gebied rondgestaan het.

‘n Groep joernaliste het ‘n tent opgeslaan, met kameras reeds op die huis se oprit gerig.

‘n Paar motors was buite die Mandela-woning geparkeer, een van hulle met ‘n militêre nommerplaat.

Lede van die publiek het stadiger gery en foto’s geneem.

Mandela se kleinseun, Mandla, het gesê die familie is diep geraak deur die gebare van ondersteuning.

“Die afgelope paar dae, sedert Madiba in die hospitaal opgeneem is, is die familie diep geraak deur die uitstorting van gebede en die oorweldigende boodskappe van goeie wense van alle Suid-Afrikaners en ons internasionale vriende,” het hy in ‘n verklaring gesê.

Comments

Leave a Reply