praag.co.za

VF+ ondersteun UNPO se aanbevelings oor geweld teen vroue

Written by

in

Die Vryheidsfront Plus se Vroukomitee het in ‘n mediaverklaring gesê dat hulle die Unrepresented Nations and Peoples Organization (UNPO) ondersteun in sy aanbeveling aan die VN dat hulle die Internasionale Dag vir die eliminering van geweld teen vroue, wat elke jaar op 25 November plaasvind, voortaan spesifiek ook na minderheidsvroue behoort te verwys. Karin Roodt, voorsitter van die die VF Plus se Vrouekomitee, meen dat “Afrikanervroue ly meer onder kriminele en politieke geweld, juis omdat hulle tot ‘n minderheid behoort”.

Me. Roodt het ‘n beroep op die regering gedoen om die VN se resolusie 1325 van 2000 te respekteer en UNPO se raad te volg deur Afrikanervroue in te sluit. UNPO is ‘n internasionale liggaam vir staatlose volke waar die VF Plus reeds enkele jare lank die Afrikanervolk verteenwoordig.

Die UNPO-verslag wys juis op seksuele geweld teen vroue wat gebruik word om “die eer van ‘n volk aan te tas”. In hierdie verband is die huidige hoë misdaadkoers en veral verkragtingskoers in Suid-Afrika rede tot kommer. Die sluiting van Rape Crisis in die Wes-Kaap laat veral ernstige vrae oor die regering, asook die opposisie se verbintenis om hierdie geweldsplaag teen vroue daadwerklik aan te spreek.

“Seksuele geweld teen Afrikanervroue tydens plaasmoorde en stedelike aanvalle verteenwoordig ‘n strategie om ons volkseer aan te tas. In die meerderheid gevalle word sulke geweld ‘n manier om mag te bekom of uit te brei. Daders word aangemoedig deur onverantwoordelike en aanhitsende uitsprake, asook die ongeërgdheid van die plaaslike en nasionale owerhede,” het sy gesê.

Die VF Plus se Vrouekomitee het die tweeledige probleem van sowel diskriminasie as geweld teen ‘n sigbare minderheid – soos Afrikanervroue in Suid-Afrika – veroordeel en die aanbevelings van die vierde sessie van die VN-forum oor Minderheidskwessies wat in Genève, Switserland gehou is, verwelkom. Twee van die aanbevelings is die bewusmaking van die probleem en die noukeurige rekordhouding van geweld teen minderheidsvroue.

Die Vrouekomitee wil om dié rede ‘n dringende beroep doen op die owerhede om geweld en misdaad teen vroue sonder verwyl aan te spreek en plaasaanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad te verklaar, asook om noukeurige statistiek van die geweld wat teen Afrikanervroue gepleeg word, beskikbaar te stel.

Roodt het daarop gewys dat Afrikanervroue in die verlede, as ‘n minderheid onder koloniale bewind in Britse konsentrasiekampedie slagoffers van redelose geweld was en dat die land besaai is met grafte van onskuldige vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gely het.

“Die Vrouekomitee is dit eens met die UNPO-verslag dat minderheidsvroue disproporsioneel onder diskriminasie en geweld gebuk gaan,” het Roodt gesê.

Komiteelede het reeds verskeie projekte geloods ter herinnering en bewaring van die erfenis van geweld teen vroue. So ‘n voorbeeld is onder andere ‘n projek deur die vroue in die Vrystaat, waar daar elke jaar tydens Vrouedag op 9 Augustus ‘n krans by die Vrouemonument te Bloemfontein gelê word ter nagedagtenis aan die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog dood is.

Александр Фильчаков

Comments

Leave a Reply