‘n Aansoek om die ANC-jeugliga te laat likwideer, is Woensdag by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien, berig Beeld. Die jeugliga skuld glo sowat R12,8 miljoen aan die beslote korporasie Z2 Presentations wat deur Willem Adendorff bedryf word.
Dit sluit R7,6 miljoen in om die Bloemfonteinse kongres in 2008 te reël, waar Julius Malema as leier verkies is. Die res van die skuld is rente wat opgeloop het.
Marius van Rensburg, Z2 Presentations se regsverteenwoordiger, sê: “Dit is nog nie op die jeugliga beteken nie, maar die balju is gevra om dit dringend te doen.”
Die jeugliga se waarnemende leier, Ronald Lamola, was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Keith Khoza, ANC-woordvoerder, het gesê die party is nie bewus van enige likwidasie-aansoek nie.
Khoza sê dis hoogs onwaarskynlik dat die jeugliga gelikwideer sal kan word. “Hulle het geen bates nie en die ANC leen die kantoor wat hulle gebruik aan hulle.”
Die jeugliga is reeds op 1 Julie 2008 in die Bloemfonteinse hooggeregshof gedagvaar en ‘n verstekvonnis is teen die organisasie verkry.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.