Die groep, onder leiding van Malema se voormalige jeugvriend en nou vyand, Boy Mamabolo, het beplan om die geskorste Jeugliga-leier te verneder toe hy sy stem tydens ‘n tussenverkiesing in wyk 13 wou uitbring.
Volgens ingeligte bronne is Mamabolo deur die DA genader om Malema te verneder. Dit wil voorkom asof die DA hoop dat ‘n Afrika Lente, soortgelyk aan die Arabiese Lente, posvat in Suid-Afrika.
DA-lede, opgetof in die party se T-hemde, het ook foto’s saam met Malema gevra, terwyl sy ondersteuners gesing het: “Juju, Juju, Juju”.
Die DA se provinsiale leier en LP Jacques Smalle is vol vertroue dat sy party sal wen as gevolg van die oënskynlike verdeeldheid in die ANC-stem.
Mamabolo en sy sewe vriende het by die stemlokaal gewag vanaf 09:00, maar het nie gaan stem nie sodat hulle vir Malema kon uittart as hy opdaag. Hy het eers teen middagete sy verskyning gemaak.
Uitgevat in ‘n ANC-hemp, het Malema in ‘n wit Mercedes-Benz S500 te midde van ‘n swaar polisieteenwoordigheid aangekom.
Gelei deur Seshego-polisiekantoor se bevelvoerder Dikeledi Mangena, het meer as 20 polisiebeamptes die stemlokaal beman, asook ‘n water-tenkwa, ‘n polisie-Nyala en ongeveer 10 gemerkte polisievoertuie.
Pandemonium het uitgebreek tussen Malema se vertroueling en Mamabolo se groep net voor Malema uitgeklim het. Mamabolo het beswaar gemaak teen die besluit dat iemand anders toustaan vir Malema.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie se provinsiale kiesbeampte Nkaro Mateta het ingegryp en Mamabolo se groep toegelaat om hul stem uit te bring voor Malema. Malema se teenstanders was duidelik daarop uit om moeilikheid te veroorsaak.
Hy het later aan joernaliste gesê hy is nie bekommerd oor ministers binne die veiligheidsgroep wat verlede week gesê het hy is ‘n teen-revolusionêr nie. Die opmerkings is gemaak na aanleiding van die Marikana-slagting.
“In ander lande, word teen-rewolusionêres vermoor en dit kom van die minister van verdediging en die generaals van die leër af, wat sulke waarskuwings rondslinger; [eintlik skep hulle] ‘n vrugbare teelaarde vir ‘n moordaanslag [op my],” het Malema gesê.
Hy het gesê die Marikana mynwerkers het geveg vir ‘n 22% salarisverhoging op hul eie, sonder vakbondleiers.
“Alle werkers moet begin om ‘n leefbare loon te eis, die werkers moet veg vir hul regmatige regte.”
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.