Skoolhoofde en beheerliggame by skole oral in Limpopo word met afdanking gedreig as hulle kla dat handboeke nie afgelewer is nie, het Solanga Milambo van Section27 gesê.
Milambo het Donderdag op ‘n mediakonferensie gesê hy het agt skole in die provinsie besoek wat ondanks ‘n hofbevel steeds nie handboeke ontvang het nie.
Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het glo gekla oor die NRO se bedrywighede en aan skole te kenne gegee dat hull nie nog handboeke gaan kry nie.
Section27 het pas weer ‘n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring nadat die departement nie handboeke teen 15 Junie gelewer het nie.
Section27, die Hanyani Thomo- höerskool en Lydia Masiphephethu, beheerliggaam-voorsitter van die Lutandale-laerskool, eis in die hofaansoek dat handboeke teen einde Oktober gelewer word.
Nthabi Pooe, regsnavorser by Section27, het gesê die departement hou vol alle boeke is gelewer, maar hulle kry daagliks oproepe van ouers en onderwysers wat sê hulle wag steeds vir handboeke.
“Ons is ook bekommerd oor die lewering van boeke vir 2013. Ons wil ‘n onderneming van die departement hê dat alle boeke vir 2013 teen 9 Januarie afgelewer sal word. Ons wil ook maandelikse verslae van die departement hê oor watter boeke by watter skole afgelewer is.”
Die eertydse waarnemende finansiële hoof van Limpopo se departement van basiese onderwys, Solly Tshitangano, is afgedank is toe hy onreëlmatighede met EduSolutions-tenders op die lappe gebring het.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.