Vyf provinsies is gewaarsku om uiters koue toestande die naweek te verwag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het waarskuwings uitgereik vir die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Oos-Kaap, suidelike Vrystaat en KwaZulu-Natal.
Volgens die waarskuwing sal ‘n afgesnyde laagdrukstelsel en kouefront vandag oor die land inbeweeg, wat bitter koue toestande, swaar reën, sneeu en sterk wind tot gevolg sal hê.
Sneeu word vir vannag voorspel in die hoogliggende suidwestelike dele van die Wes-Kaap en die oostelike dele van die Oos-Kaap. Die Weerdiens sê temperature sal tot onder vriespunt daal in dele van die Wes-, Noord-en Oos-Kaap en sneeu word ook in gebiede verwag waar dit nie gewoonlik sneeu nie.
Belangstellendes stroom intussen na die Swartberg-pas buite Oudtshoorn in die Klein Karoo waar swaar sneeu gisteraand geval het. Dit is sowat minus een grade Celsius in die pas.
Die Swartbergpas is om veiligheidsredes vir verkeer gesluit en motoriste is gevra om versigtig te bestuur. Sneeu het ook in die Outeniqua-berge in die George-omgewing van die Suid-Kaap geval.
Die Weerburo in Pretoria sê Gautengers moet hulle van môre-middag af staal teen baie koue weestoestande wanneer die kouefront deur die provinsie beweeg.
Die kwik sal Sondag ‘n maksikum van tussen tien en 13 grade bereik, waarna temperature vanaf Maandag geleidelik warmer word. Dit sal Maandag en Dinsdag egter nog baie koud wees.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.