praag.co.za

Wanneer Naspers begin sweet

Written by

in

Dit is nogal amusant om te sien hoe Rapport begin sweet en nou sy uiterste bes doen om die erdwurms terug in die blikkie te druk wat prof. Giliomee twee weke gelede oopgebreek het in sy rubriek “Apartheid: Was dit dan net boos?”.

Die nuutste is afkomstig van prof. Anton van Niekerk van die Universiteit van Stalinbos.

Dit is nou alweer die eindelose geweeklag van die mensonterende toestande van destyds en word nog verder versterk met ‘n foto-inset van “die laaste dae van Sophiatown”.

Natuurlik het Rapport se redaksie of apparatsjiek Van Niekerk in alle tale versuim om te meld dat die ontheemdes van Sophiatown hul nuwe wonings in Meadowlands veel aangenamer gevind het, volgens ‘n berig in The Star destyds…’n koerant wat nou nie bepaald bekend staan vir sy pro-Afrikaner of pro-Verwoerd ingesteldheid nie.

Ook rep hy geen woord oor die armoedige en misdadige toestande waarin die inwoners van Sophiatown geleef het nie, soortgelyk aan die favelas in Brasilië. Vanwee die rotte wat daar tussen die mense rondgeskarrel het sou dit net ‘n kwessie van tyd gewees het of die builepes het uitgebreek, en dan sou die internasionale perse weer die tyd van hul lewe gehad het om die “apaathaaid government” te beskuldig van ernstige verwaarlosing van die swart gemeenskap.

Van Niekerk basuin alweer in die rigting van tweederangse burgerskap en mensonterende toestande en is hiermee doelbewus besig om die belangrikste probleme van Suid-Afrika te ontken. Die twee voornaamste dilemmas waar Suid-Afrika mee te kampe gehad het is enersyds die enorme bevolkingsontploffing onder swartes destyds wat juis as gevolg van westerse voedselhulp en geneeskunde veroorsaak is. Daar was eenvoudigweg nie genoeg hulpbronne gewees om so baie mense te voorsien van huise, skole, infrastruktuur ens. nie, en is ook die belangrikste rede waarom apartheid uiteindelik aan sy einde gekom het. Die vorige regering kan in elk geval nie verwyt word dat hulle nie geprobeer het om swartes te akkommodeer nie. Die Wêreldbank het in 1987 bekend gemaak dat die wittes in Suid-Afrika gemiddeld 32% belasting betaal het maar slegs 9% daarvan terug ontvang het in die vorm van dienslewering. Die res het gegaan na die ontwikkeling van die nie-blankes.

Die ander belangrike probleem waarmee Suid-Afrika gesit het is sy groot aantal minderhede. Die krete van “majority rule” wat ons tot vervelens toe gehoor het is ‘n illusie, omdat Suid-Afrika geen meerderheid het nie, maar slegs bestaan uit minderhede. Aangesien daar voortdurend onmin is by minderhede is die enigste werkbare oplossing juis om mense soveel moontlik by hul eie soort te hou. Eers dan kan ‘n gemeenskap gesond ontwikkel, aangesien almal dieselfde taal, opvatting, geografiese gebied en kernwaardes deel. Om almal deurmekaar te gooi en dan “vrede” te verwag het nooit gebeur nie en sal hoogstens net vir ‘n kort rukkie wees. Vervreemde en ongeskoolde mense stroom almal na die stede toe met die hoop op werk maar verval vinnig in frustrasie, misdaad, armoede en nog verdere vervreemding en dan word ‘n groot misdadige onderklas ‘n permanente verskynsel. Verwoerd het gepoog om hierdie so veel moontlik te voorkom. Dit is juis integrasie wat sulke mensonterende omstandighede veroorsaak, aangesien mense wat niks met mekaar in gemeen het nie “gelyk” volgens ‘n ander kultuur se standaarde behandel word sonder om rekening te hou met die kulturele verskille wat dikwels hul agterstand in stand hou nie. Hulle is verward oor die eise wat aan hulle gestel word en die algemene norme wat geld.

Hierdie verskynsel vergelyk goed met dit wat Oswald Spengler “pseudomorfose” genoem het. Vry vertaal beteken pseudomorfose: “…daardie gevalle waar ‘n ouer en vreemde kultuur so weids oor die land le dat ‘n jong kultuur nie sy asem kan skep nie, en versuim nie net om suiwer en spesifieke uitdrukkingsvorme te vermag nie, maar ook om sy eie selfbewussyn volledig te ontwikkel. Alle opwellinge vanuit die dieptes van die jong siel word in ou vorme gegiet, jong gevoelens verstyf in ou praktyke, en in plaas daarvan om sy eie kreatiewe kragte uit te brei, kan hy slegs die afgelee krag haat met ‘n haat wat tot monsteragtige proporsies uitgroei”.

Hierdie proses vat myns insiens die frustrasie van die swart jeug goed saam. Ek neem aan dat ons voorlopig geen lesings van Spengler aan die universiteite sal ontvang nie, aangesien ‘n mens deesdae geleer word om polities-korrekte instruksies te volg in plaas van om vir jouself te dink.

Vanuit bogenoemde stelling oor pseudomorfose is net gou belangrik om die volgende te meld: Diskriminasie op sigself is nie so erg of pynlik nie. Dit is slegs pynlik en bitter wanneer dit gepaard gaan met deprivasie. As jy teen iemand diskrimineer maar jy bied hom genoeg alternatiewe wat ewe goed is, kan hier sprake wees van ‘n mensonterende situasie?

Lande soos Saoedi-Arabië diskrimineer skaamteloos teen alles en almal wat nie ‘n rasegte Arabier is nie. Buitelandse werkers wat daar werk moet in aangewese gebiede woon met wagte en sperdraad om hulle, en lakeie wat vir die prinse werk moet Arabiere wees met ten minste ‘n universiteitsgraad. En dan het Saoedi-Arabië ook nog uiters streng sjariawette. (Bygese, die Saoedi’s moet egter so streng wees as hulle wil oorleef. Met die eerste teken van versagting gaan die vyand aan die grens hulle as swak beskou en onmiddelik op sy olievelde toeslaan. Toegewing is blykbaar die fout wat Afrikaners gemaak het.) Desondanks is daar genoeg Westerse mense wat onder sulke omstandighede daar wil werk.

Daar is nog steeds formele diskriminasie teen wittes in Suid-Afrika, en in hierdie geval gaan dit wel gepaard met deprivasie. En dan praat ek nie eens van die haatgedrewe misdade en “Kill the Boer” slagspreuke wat ons orals hoor nie (het ons ooit tydens apartheid “Kill the munt” gesing?). Die tuislande was destyds ontwikkel gewees om homogene swart gemeenskappe te ontwikkel. Watter keuse het Afrikaners deesdae? Hulle het geen eie tuisland nie en word ook geen middele gegee om hulself te ontwikkel tot ‘n volwaardige volk nie. Net soos tallose staatlose volkere oor die wereld waarvan sommiges selfs bereid is om ‘n marteldood te sterf vir ‘n eie land, het Van Niekerk en sy internasionale magnate veroorsaak dat Afrikaners ook nou tot dieselfde ry behoort as die Koerde, Baske, Zapatistas, Molukkers, Berbers en ander. Kennelik vind van Niekerk stateloosheid en landonteiening onder sy eie volk minder ondenkbaar, immoreel en onverantwoordbaar as ‘n eie onvervreembare grondgebied soos wat destyds gegeld het toe swartes die mees vrugbare lande in Suid-Afrika vir hulself gekry het.

Van Niekerk gaan verder en stel: “Dit beteken nie ons moet in sak of as gaan sit nie of dat die meerderheid vandag die reg het om op dieselfde manier teenoor ons op te tree nie – “two wrongs don’t make a right”. Dit beteken slegs dat ons verantwoordelikheid moet aanvaar vir ons verlede nes daardie verlede was en dat ons, sover ons kan, moet probeer om ‘n bedeling te skep waarin almal gelyke geleenthede het en waarin die soort diskriminasie en verontmensliking van die apartheidsverlede nooit weer kan plaasvind nie.”

As ons kyk na die Verenigde Nasies se Menslike Ontwikkelingsindeks van Suid-Afrika dan sien ons duidelik hoe goed Suid-Afrika se algemene volksgesondheid gedoen het tydens apartheid. Dit was in elk geval heelwat beter as die res van sub-Sahara Afrika en vergelykbaar met die wêreldgemiddelde gewees. Ironies het direk na ANC oorname die algemene ontwikkeling nogal skerp gedaal…en nou word van ons verwag om “verantwoordelikheid te aanvaar vir die verlede”.

Dus ja prof Van Niekerk. Hierdie feite – afkomstig van dieselfde organisasie wat ons van ‘n misdaad teen die mensdom beskuldig het – bewys dat ons wel verantwoordelikheid geneem het destyds, in elk geval heelwat meer as hierdie huidige spulletjie bloeddorstige massamoordenaars en verkragters wat nou Suid-Afrika regeer en u salaris betaal daar in Stalinbos. Dit is juis julle sedeprekers wat ‘n vry debat oor ras en kultuur onmoontlik maak.

Om CS Lewis aan te haal: “And all the time—such is the tragi-comedy of our situation—we continue to clamour for those very qualities we are rendering impossible. You can hardly open a periodical without coming across the statement that what our civilization needs is more ‘drive’, or dynamism, or self-sacrifice, or ‘creativity’. In a sort of ghastly simplicity we remove the organ and demand the function. We make men without chests and expect of them virtue and enterprise. We laugh at honour and are shocked to find traitors in our midst. We castrate and bid the geldings be fruitful.”

Ons weet natuurlik almal wie al die pad bank toe lag op die pyn en verdriet van die huidige bestel, of hoe se ek prof Van Niekerk?

Onthou dit wanneer u voortaan wil preek oor “immoraliteit”.

Олександр Фільчаков прокурор

Comments

Leave a Reply