Die land se linkses het, na die ’94 oorgawe, hulleself aangestel as kenners van die laer. Die laer, soos hulle dit voorgestel het, is daardie mitiese ruimte wat Afrikaners vir hulleself reserveer. Hierdie plek, volgens linkse propaganda, is ‘n bedompige plek, vol agter-die-klip, ingeteelde, stuurse witmense. Hier is spontaniteit verbode, vindingrykheid ongewens, kleurvolheid onder verdenking en vooruitgang verbode. Die linkse meesterplan was om die skugter Afrikaner uit die laer te lok met beelde van ‘n opwindende nuwe lewe in die polsende diversiteit van die ware Suid-Afrika. En so sal die Afrikaner sy boersheid neerlê, die multi-kulturele Reënboognasie-ideaal aangryp en heupswaaiend en met nuwe lig in sy Azaniese oë… verdwyn…
Nou, egter, sit die liberales met hulle benerige, bewerige vingers in hulle grys, staalwoltekstuurhare. Nie net het die meeste Afrikaners die sirenesang van die Nuwe Suid-Afrika verontagsaam en met uitgelatenheid in die laer gebly nie, dié wat hulle pad daaruit gevoel-voel het, het nou teruggeskarrel en diep tevrede van verligting gesug. En nie net hulle nie – ook dié wat tradisioneel buite die laer was, skuifel nader en smeek vir toegang. Dis veilig in die laer, sien, en sissend met die opwinding van nuwe dinge. Boweal, dis lekker, so lekker in die laer. Daarbuite is dit koud, gespanne, dreigend. Maar binne die laer brand die vrolike lanterns, die polka speel en die koffie – daardie hartlike boeretroos – is reg om geskink te word.
Die liberales het misgetas toe hulle die sprekers van die Taal uit hulle Afrikanerskap probeer praat het. Hulle het die menslike aard en die belewenis deur millennia verontagsaam. Die mens het ‘n onuitpoleerbare genetiese behoefte om te weet wie hy is en om homself dan te skaar by ander mense met dieselfde groepsidentiteit. Hierdie drang word verhewig wanneer daardie groep juis binne die omlyning van daardie identiteit bedreig word.
Terwyl Afrikaner-liberaliste soos Christi van der Westhuyzen, Max du Preez en die stomme Koos Kombuis nog nie die nuus gekry het nie, is ander se oë oop vir die laer as die plek waar mense wil wees. ‘n Grieks-Engelse meningskrywer, belas met die naam Styli Charalambous, het ‘n hele rubriek geskryf met die titel en tema dat Afrikaans nou “koeler” as Engels is. Natuurlik is en bly hy ‘n oningelyfde en tas daarom mis oor die redes vir hierdie heroplewing van Afrikaans, wat hy toeskryf aan die politieke ambisieloosheid van Afrikaners.
Die aantrekkingskrag, vir die van ons wat daarin tuis is, is baie meer voor die hand liggend. Die uitmuntendste aantreklikheid van die laer is in die eerste plek dat dit wel bestaan. Die Wessas (Wit Engelssprekende Suid-Afrikaners) voel toenemend verlate, soos groepies verweerde pelgrims in ‘n vyandige wildernis. Kultureel is hulle verdwaal iewers tussen die klater van Amerika en die eksentriekheid van Brittanje. Hulle het bitter, bitter min wat hulle hulle eie kan noem en hulle beny die Afrikaner sy identiteitsekerheid. In hulle soeke het hulle die konsep van Suid-Afrikanerskap aangegryp, net om uit te vind dat dit ‘n beeld van as is, ‘n uitgebrande skim. Daar bestaan doodeenvoudig nie so iets nie. Maar die laer is daar – teen alle linkse verwagtinge in – standvastig en selfversekerd.
Die laer bestaan nie net nie, dis vir die buitestaander duidelik dat dit helder en warm en vooruitstrewend is in die laer.
Voormalige Anglo-American-hoof, Clem Sunter hef in ‘n artikel ‘n lofsang oor die mense in die laer aan. Hy noem dit ‘n “ironiese kinkel” dat “die ware begunstigdes van die einde van Apartheid die mense is wat veronderstel was om daaruit te gebaat het toe dit bestaan het – die Afrikaners.” Ter stawing noem hy dat die “snelgroeiendste element op die Johannesburgse Effektebeurs maatskappye is wat deur Afrikaners besit word,” en verwys ook na die Noordkus van Maputo waar “’n rits losies en duikwinkels deur entrepreneurs van Pretoria gevestig is.”
Met geen ware insig in die lede van die laer nie, skryf hy hierdie sukses toe aan die Afrikaner se “kollektiewe bewussyn wat die geestelike grondslag van ‘n effektiewe kommersiële netwerk is.” Natuurlik bestaan daar nie so ‘n netwerk nie. Die Afrikaner se kommersiële sukses is, soos al sy ander welslae, toe te skryf aan sy vasberadenheid, werksywer en die suiwer vreugde wat hy in wedywering vind. Maar nou dat hy ‘n nuwe waardering vir lewe in die laer gevind het, is dit heeltemal denkbaar dat die Afrikaner wél daardie netwerk gaan stig. En hoe formidabel sal dit nie die mense van die laer dán maak nie?
Dit is ook nie net kommersiële sukses wat opvallend van lewe in die laer is nie. Die laer is deesdae as’t ware ‘n byekorf van skeppende bedrywigheid. Afrikaanse musiek oorheers die plaaslike bedryf en nuwe skrywer- en digterstemme maak hulle keel skoon. Selfs die Afrikaanse filmbedryf – so lank in hibernasie, begin ontwaak.
Vir die liberalis, vernaamlik die klein kadertjie linkse Afrikaners, is herlewing in die laer hulle grootste nagmerrie, gemaak uit die stoffasie van hulle saamgestelde vrese. Hulle enigste inenting daarteen is om snedig en spottend oor die laer en die mense daarin te wees; dít in die jammerlike geloof dat as jy vir iets kan lag, jy nie daarvoor hoef bang te wees nie. Meestal fokus hulle pogings op die uiterlike van die mense van die laer. Dáárdie boepense, dáárdie wangbaarde, dáárdie tweekleurkakiehemde.
Hoe vreemd is dit nie! Die liberales se wonderwerkende formule is juis dat kennis van ander kulture die oplossing is vir lewe in die Nuwe Suid-Afrika; ironies siende dat hulle algeheel onkundig is oor die ware Afrikaner, die laergenoot, en voorts geen behoefte het om meer van hom te leer nie. As die linkse die Afrikaner beter verstaan het, sou hy geweet het dat die tweekleurkakiehemp nie blote modedisleksie is nie, maar juis ‘n knipoog en ‘n grinnik jeens die liberalis.
Kakie – in een of twee of selfs meer kleure – is dié uitmuntendste kleedstof in die veld. Gemaklik en loshangend koel in die bosveldsomer en tog dik en dig genoeg om bo ‘n onderhemp en onder ‘n trui warm te wees in ‘n Karoowinter. Dis taai en bied genoeg weerstand teen haakdorings, doringdraad, klip en harde grond. So, as ‘n man die kakie aantrek, sê hy daarmee: Ek is een van hulle. Ek is ‘n Boer.
Daar is meer. Die kakiehemp, in ensemble met sy kortbroek, lang kouse en stapskoene is ‘n verklaring van sy minagting vir die konsep dat ‘n man se waarde volgens sy modebewustheid gemeet word. Dit is die verklaarde liberale droom dat ’n mens volgens sy karakter en nie op die kleur van sy vel beoordeel moet word nie. So is dit die Afrikaner se grondopvatting dat ‘n man nie aan sy kleresmaak nie, maar volgens sy optrede beoordeel sal word.
Dis natuurlik oorvereenvoudig om te sê alle Afrikaners dra kakiehemde en luister na Kurt Darren. Daar is lede in die laer wat so sjiek soos enige kontinentale edelman aantrek en ‘n musikale tuiste in Beethoven se Laat Strykkwartette vind.
Ek hou nie van boeremusiek nie, maar ek hou van mense wat van boeremusiek hou. En ek vind hulle in die laer. Hulle is sterk, gemoedelik, emosioneel, opreg en slim.
Die liberales vrees die laer, en met reg ook, want dit is teen die wawiel daarvan wat hulle ideaal van ‘n Afrikaner wat in ‘n multi-kulturele moeras verdwyn, te pletter geslaan gaan word. Die Afrikaner gaan nie verdwyn nie want hy is veilig in die laer, en die laer word elke dag net fermer en veiliger. Die linkses het lank genoeg hulle oë daarvoor gesluit en hulle vingers in hulle ore gedruk en geneurie om die vrolike gekwetter in die laer uit te doof. Daarom het hulle soveel verdraaide opvattinge oor die laer versprei: Dis die desperate hoop dat hulle hulle eie propaganda sal begin glo en darem tydelike gemoedsrus sal vind Tog begin hulle besef dat die mense in die laer onkeerbaar weer ‘n bepalende faktor in Suid-Afrika word. ‘n Mens hoor dit toenemend in liberale se onwillige uitsprake.
Maar die een ding wat hulle altyd nalaat om te sê, is: Dis Lekker in die Laer!

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.