Die Leeus en die Cheetahs het hulle Super Rugby-veldtog met ’n soort lae-intensiteit skermutseling van stapel gestuur, en, soos meermale in die verlede, het die katte van die Noorde die Sentraalkatte met twee punte geklop. Dié keer was die telling 27-25.
In hierdie fase van elke seisoen is die begrip “roes” ter sprake, maar gister op Ellispark wat deesdae na ’n gaskoeldrank vernoem is, was die gebruiklike onbehendigheid nie so ooglopend nie; dit was meer ’n geval van twee spanne wat versigtig speel, wat dinge nog nie teen volspoed doen nie, wat die bal versigtig aangee en seker maak van hulle posisies op die veld.
Die hitte van die stryd het net een drie – gedruk deur die Vrystaatse stut, WP Nel – die telkaart gehaal. Die res was skoppunte, 20 vir die Cheetah-losskakel Johan Goosen en 27 vir sy regstreekse teenstander Elton Jantjies. Die Transvaler het, om die waarheid te sê, die rekord vir stelskoppe in ’n Super Rugby-wedstryd geslaan en nege gebank.
Die groot hoeveelheid skoppunte was die gevolg van wedstrydbenadering, veral van die spanne op die aanval. Met die skerpheid en onverskrokkenheid van verlede seisoen, sou baie van hierdie offensiewe tot drieë gelei het. Die deurdringing en dringendheid het geskort en die konserwatisme van die spanne het tot ’n ander ingesteldheid gelei. Beide spanne in topvorm is vooraanstaande eksponente van voetbal-Blitzkrieg, waar bresse geslaan word met toegespitsde aanslae, makkers met vernuftige aangeë deur oopgerekte gapings gestuur word en die bal wat vinnig en presies aangestuur word tot waar die verdediging die ylste is. Gister, egter, is die aanval meer gebruik om genoeg druk op die vyand te plaas sodat hulle sou oortree wat die skopgeskut in spel sou bring.
Inderwaarheid was dit die Cheetahs wat hiermee die suksesvolste was. Elton Jantjies is ’n belangrike teëltjie in die Leeu-mosaïek maar die bloedjong Johan Goosen lyk op die vooraand van ’n legendariese loopbaan in die Cheetah-trui te wees. Daar skort met sy algemene spel niks, maar hy het doodeenvoudig die gekonsentreerde skopkrag van drie muile in sy regterskoen. As hy ongeskonde bly, gaan hy die landskap van Super Rugby hierdie seisoen verander. Spanne gaan baie meer konserwatief by die afbreekpunte so ver as sestig meter van hulle pale moet speel, en dit gaan vir Heinrich Brüssouw soveel dodeliker op die baljag maak.
Gister het Goosen so in die harwar van los spel die bal ontvang, twee treetjies getrippel en die bal vyftig meter ver per stelskop deur die pale versend. ’n Minuut later het die Leeus onwettig omgegaan by ’n afbreekpunt, ’n goeie sestig meter van hulle pale. Goosen het die bal op sy eie tientreëstippellyn geplaas, kort aanloop uitgemerk, gestorm en geskop. Geen probleem! Hy kan die faktor word waarvoor Frans Steyn eens bestem was – die langafstandkanonnier wat opponente oor tweederdes van die veld lamlê. Iets so ooglopend funksioneel en roetinegewys as ’n posisionele skop uit die kwartgebied sal heroorweeg moet word, want kry Herr Goosen dit in die hande, gaan dit nie as ’n taktiese mog’t-troffe hersend word nie. Die pale gaan onder skoot kom.
Soos wat dit is, het die Leeus gewen omdat Goosen twee keer nie ’n stelskop, wat die wedstryd sou wen, kon neem nie, bloot omdat hy nie op die veld was nie, die eerste keer weens ’n geelkaart en die tweede keer omdat hy reeds deur Sias Ebersohn vervang is. Ebersohn, en voor hom Tewis de Bruyn, het albei die kol gemis met skoppe wat maar net ’n formaliteit vir Goosen sou wees.
Nie een van hierdie spanne is Super Rugby-gunstelinge nie, maar dit sal besondere onnoselheid van ander spanne vat om hulle te onderskat. En tog, so seker as wat roes ’n besprekingspunt aan die begin van ’n seisoen is, so seker is dit dat sommige spanne tog die Leeus of die Cheetahs gaan vlak kyk. En daar sal agterna wonde gelek word.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.